Megan Adendorff
Met warmer dae om die draai, is dit tyd om jou donker winterkleure vir iets vars en vrolik te verruil.
Van kersierooi en pistache-groen tot bottergeel, melkerig wit en helder pienk – daar is dié lente en somer heelwat kleure om mee te speel.
Natasha Pienaar, eienaar van Beauty Clinic in die Paarl, is al meer as 20 jaar in die skoonheidsbedryf en volgens haar geniet sy dit om mense goed oor hulself te laat voel.
“Ek glo as jy goed lyk, voel jy goed,” sê sy.
Vir dié wat onseker is oor watter kleur om te kies, beveel Pienaar pastelkleure aan omdat dit by enige velkleur pas. Sy sê neonkleure moet eerder vermy word.
Jou vinger- en toonnaels hoef ook nie dieselfde kleur te wees nie.
Volgens Pienaar kan verskillende kleure juis mooi saamwerk. Donkerbruin met sagte geel, of dieprooi met sagte pienk, is van die kombinasies waarvan sy hou.
Maar ’n mooi kleur is net een deel van naelversorging. Met warmer weer word hande en voete meer aan die son, asook swembad- en seewater, blootgestel.
Pienaar sê versorging van binne is net so belangrik soos dié van buite en beveel aan dat mense ’n goeie handeroom byderhand hou.
Vir dié wat gereeld gelnaels dra, is naelvliesolie volgens haar ’n belangrike deel van die versorging. Sy stel voor dat dit sommer langs die bed gehou word sodat dit gereeld in die naels gemasseer kan word.
En dan is daar die goue reël: moenie jou naels as gereedskap gebruik nie.
“Naels kan nie as gereedskap gebruik word om ’n blikkie oop te maak nie. Dit sal breek,” sê Pienaar.
Sy beveel ook aan dat mense ‘n naelvyl in hul sakke hou vir wanneer ’n nael onverwags breek. “Vyl die nael reguit om te help voorkom dat dit inskeur,” sê Pienaar.
Voete kan tuis ook ’n bietjie bederf word. Pienaar stel voor dat jy jou voete gereeld in ’n voetbad met asyn en Engelse sout week om die dooie vel sag te maak. Die naels sal daarna ook makliker knip.
Vir Pienaar gaan selfversorging egter oor meer as net mooi naels.
“Neem tyd om te ontspan en geniet die selfversorging,” sê sy.





