Lauricha van Niekerk, Burgemeesterskomiteelid vir sport, toerisme en omgewingsake by Drakenstein, het ook vanoggend (18 September) aan die vreedsame betoging voor die landdroshof in die Paarl deelgeneem. Foto: Megan Adendorff

Groep ruk op teen geslagsgeweld

Lauricha van Niekerk, Burgemeesterskomiteelid vir sport, toerisme en omgewingsake by Drakenstein, het ook vanoggend (18 September) aan die vreedsame betoging voor die landdroshof in die Paarl deelgeneem. Foto: Megan Adendorff

Megan Adendorff

“Genoeg is genoeg,” was die boodskap van talle vroue en ’n paar mans wat vanoggend (18 September) by die sirkel voor die landdroshof in die Paarl bymekaargekom het om vreedsaam teen geslagsgeweld te betoog.

Die betogers was almal in swart geklee, ’n kleur wat dikwels met rou geassosieer word.

Die protes is deur die Drakenstein-munisipaliteit georganiseer as deel van sy Honderd Dae van Aktivisme teen Geslagsgeweld. Die veldtog het ten doel om mense in te lig en op te voed oor wat om te doen wanneer hulle hulself in situasies bevind waar hulle slagoffers van mishandeling is.

Die onlangse moorde in Kempton Park het ook grootliks daartoe bygedra dat vroue aan Vrydag se protes deelgeneem het.

Talle vroue en ‘n hand vol mans het Vrydagoggend (18 September) aan ‘n vreedsame protes teen geslagsgebaseerde geweld voor die landdroshof in die Paarl deelgeneem.
Foto: Megan Adendorff

Name soos dié van Chanelle Plaatjies is tydens die betoging uitgelig. Die 16-jarige se liggaam is vroeg in Junie verlede jaar gevind nadat sy in Mei laas lewend gesien is.

Haar kêrel en nog twee mans word daarvan verdink dat hulle haar vermoor en begrawe het.

Laurichia van Niekerk, die Drakenstein-munisipaliteit se Burgemeesterskomiteelid vir sport, toerisme en omgewingsake en ’n aktivis vir vroueregte, het ook aan die vreedsame betoging deelgeneem.

Vir Van Niekerk is die stryd teen geslagsgeweld persoonlik. Sy sê sy is self ’n oorlewende van geslagsgeweld en het ná mishandeling in haar huwelik besluit om te skei.

“Ek staan vandag hier in solidariteit met ons vroue en mans wat sê genoeg is genoeg. Stop geslagsgeweld, want ons vroue se lewe beteken iets en ons wil die stem wees vir die stemlose mense,” het Van Niekerk gesê.

“Ek is vandag hier in my hoedanigheid as ’n mens, as ’n inwoner van Suid-Afrika, om te sê ek voel hartseer. Ek voel die pyn van daardie families wat hul geliefdes verloor het en ons kan nie stilbly nie.”

Van Niekerk het ook ’n beroep op mans gedoen om hul houding teenoor vroue te verander.

“Ek vra vir ons mans: verander jul hart, verander jul houding teenoor ons vroue. Jy hoef nie iemand seer te maak as jy iets wil weet nie. Ons smeek julle, neem standpunt in en beskerm ons vroue,” het sy gesê.

Mbasa Pringan (23) van die Paarl was een van die mans wat aan die betoging deelgeneem het.

“Aangesien ek ’n suster en ’n ma het, het ek besluit om vandag hier te kom staan, maar bo en behalwe dit, dink ek dit wat met ons vroue gebeur, is beslis verkeerd,” het Pringan gesê.

Volgens Pringan is daar geen rede om iemand se lewe te neem nie, veral nie dié van ’n vrou nie.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article