Die Kunstekaapteater is trots om hul 18de plattelandse uitreikprojek vir ’n tweede keer in 22 jaar Wellington toe te neem. Die geleentheid sal plaasvind van 21 tot 23 Oktober by die Wellington-kampussaal van die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT), en afsluit met die gewilde Kunstetreffers-galakonsert op Vrydag 23 Oktober om 19:30.
Hierdie uitreik voltooi die sirkel aangesien dit ook in hierdie skilderagtige, histories ryk plattelandse dorp was waar die Kunstekaap die plattelandse uitreikprogram 22 jaar gelede vir die eerste keer uitgerol het om teater van wêreldgehalte na die plaaslike gemeenskap te bring. Vanjaar se weergawe vorm ook deel van Kunstekaap se 55-jaar-vieringe.
Kunstekaap neem elke jaar professionele en uiteenlopende uitvoerende kunste-ervarings regstreeks na plattelandse gemeenskappe. Sodoende word geleenthede geskep vir jongmense en gemeenskapslede om die transformerende krag van lewendige opvoerings te ervaar – van ballet en kontemporêre dans tot opera, orkesmusiek, tradisionele Afrika-musiek, sirkuskuns en koorsang.
“Die Artscape-raad ondersteun en omarm hierdie wonderlike inisiatief om uitvoerende kunste na die mense, en veral die jeug, te bring. Ons mag nooit die belangrikheid onderskat van die rol wat ons speel in die vorming en beïnvloeding van ons jeug nie, aangesien hulle ons toekomstige leiers sal wees. Blootstelling aan ’n verskeidenheid genres van uitvoerende kunste wat op ’n professionele wyse aangebied word, kan slegs ’n positiewe uitwerking hê op die manier waarop hulle die wêreld om hulle en die beskikbare geleenthede beskou,’ sê Zak Gordon, voorsitter van die Kunstekaap-raad.
Vanjaar se program sluit deelnemers van Kunstekaap se geassosieerde geselskappe en organisasies in – die Kaapstadse Stadsballet, die Kaapstad Filharmoniese Orkes (KFO), Women Unite, Zip Zap Circus en die Unmute-dansgeselskap – wat die verhoog deel met talentvolle plaaslike kunstenaars en musiekgroepe. Onder die kunstenaars tel die dowe danser Andile Vellem, operasangers Zanne Stapelberg en Niël Rademan, die bekende jazz-veteraan Fancy Galada, ‘n KFO-kwartet met klassieke musiek, en die Kaapstadse Stadsballet wat klassieke en swing-dansitems sal lewer.

Plaaslike talent sluit in die Pacific Brass Band (gestig tydens die Dream Up! Drum Up! – internasionale kulturele uitruilprojek waarby Kunstekaap, Samba Résille van Toulouse in Frankryk en Barefeet Theatre van Zambië betrokke was); sanger Jayson Kleinschmidt (deelnemer aan kykNET se Maak My Famous-program); die Pêrel van Paarl, sangeres Loren Erasmus; die Bosman Adama-gemeenskapskoor onder leiding van Rita Andreas; die Adagio-manskwartet van Wellington; en Jordan Adams, ’n danser van die nabygeleë New Orleans Senior Sekondêre Skool. Gebaretaaltolk Mphotseng Shuping sal verseker dat niemand uitgesluit word nie.
Die musiekregisseur is Trevino Isaacs, die regisseur is Basil Appollis, en Kunstekaap se uitvoerende hoof, dr. Marlene le Roux, is die uitvoerende vervaardiger. Interessantheidshalwe, beide Appollis en Le Roux is van Wellington afkomstig.
Skoolopvoerings
Soos gewoonlik, word laer- en hoërskoolleerlinge uitgenooi na ’n reeks gratis skoolopvoerings wat daarop gemik is om jong gehore aan ’n verskeidenheid professionele uitvoerende kunste-dissiplines bekend te stel. Hoërskoolleerlinge kry ook die geleentheid om loopbane in die kuns-, kultuur- en vermaakbedryf te verken.
Op Donderdag, 22 Oktober, sal Kunstekaap se tegniese span die belangrike werk demonstreer wat agter die skerms plaasvind, insluitend klank, beligting en tegniese produksie.
“Die loopbaangerigte sessies gee leerlinge insig in die talle loopbaanrigtings benewens die uitvoering van kuns, wat hulle aanmoedig om geleenthede in tegniese produksie, verhoogbestuur, beligting, klank, kreatiewe ontwikkeling en ander gebiede van die vermaakbedryf te oorweeg.
“Ek wil skole aanmoedig om hierdie gratis opvoerings aan te gryp; die doel daarvan is om leerlinge te inspireer, hul blootstelling aan die uitvoerende kunste te verbreed en hulle aan te moedig om kreatiewe en kulturele loopbane te verken. Kunstetreffers 2026 weerspieël Artscape se verbintenis daartoe om die kunste ook vir landelike gemeenskappe toeganklik te maak.
“Dit is ’n platform waar professionele kunstenaars, opkomende uitvoerders, leerlinge en plaaslike gemeenskappe kan saamkom om die rykdom van Suid-Afrika se kulturele landskap te deel, te ervaar en te vier. Deur middel van musiek, dans, teater en storievertelling vier die program die samekoms van verskillende artistieke dissiplines, terwyl dit ook die belangrikheid van kunsonderrig en toegang tot kreatiewe geleenthede,” sê Le Roux.
Die Wes-Kaapse regering is ten gunste van die inisiatief.
“Die departement van kultuursake en sport ondersteun Kunstekaap se plattelandse uitreikprogram, wat gehalte-ervarings in die uitvoerende kunste na landelike gemeenskappe bring en geleenthede skep vir leerlinge en opkomende kunstenaars om by die kunste betrokke te raak, terwyl dit ook weë vir hul voortgesette ontwikkeling binne die sektor oopstel. Die program weerspieël die belangrikheid daarvan om toegang te verbreed, talent te koester en te verseker dat die kunste toeganklik en relevant bly vir gemeenskappe in die provinsie,” sê dr. Carol Van Wyk, Wes-Kaapse hoofdirekteur van kultuursake.
“Ons betuig ons hartlike dank aan ons borge en vennote: die Drakensteinse munisipaliteit, die departement van kultuursake en sport, die Wes-Kaapse onderwysdepartement, die nasionale departement van sport, kuns en kultuur, die Breytenbach-sentrum, KSUT se Wellington-kampus, asook die breër Wellington-gemeenskap en alle deelnemende kunstenaars,” sê Le Roux.
Program vir konserte en loopbaansessies
Woensdag, 21 Oktober – laerskole
- Konsert 1: 10:00–11:00
- Konsert 2: 12:00–13:00
Donderdag, 22 Oktober – hoërskole met loopbaansessies
- Konsert 3: 10:00–11:30 – sluit ’n loopbaanekspo in – veral geskik vir hoërskole
- Konsert 4: 12:30–14:00 – sluit ’n loopbaanekspo in – veral geskik vir hoërskole
Skole wat die gratis dagoptredes wil bywoon, word aangemoedig om Kunstekaap te kontak by slu@artscape.co.za of 021 410 9834 om bywoning en sitplekreëlings te bevestig.
Kaartjies vir die Kunstetreffers-konsert op 23 Oktober is beskikbaar op Quicket en by die Breytenbach-sentrum (066 289 2212).
Vir meer inligting, besoek gerus www.artscape.co.za.
ALSO READ: Artscape marks 55 years with memory wall and call to support the arts






You must be logged in to post a comment.