Waarskuwing: Die grafiese detail in die berig kan ontstellend wees vir sensitiewe lesers.
PATERNOSTER – Nóg inligting is bekendgemaak oor die skuldigbevinding en vonnis van ’n 41-jarige man wat sy 13-jarige dogter verkrag het.
Weslander verlede week berig die Paternoster-pa wat sy tienerdogter verkrag en probeer vermoor het, 55 jaar agter tralies gaan sit.
Die bekende gemeenskapsleier het geweet hy is HIV-positief en het aan die hof erken dat hy sy tienerdogter se lewe in gevaar gestel het deur onbeskermde seksuele omgang met haar te hê.
Die man is verlede Donderdag (29 Oktober) in die Vredenburgse streekhof tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis vir die eerste van twee verkragtingsaanklagte. Hy het ook 35 jaar gevangenisstraf vir die tweede verkragting en 25 jaar vir poging tot moord ontvang. Die vonnisse moet samelopend uitgedien word, wat op ’n totale vonnis van 55 jaar neerkom.
Volgens Erica Ntabazalilla, die Wes-Kaapse woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het die beskuldigde die aanklagte erken as deel van ’n pleit- en vonnisooreenkoms met die staat.
In dié ooreenkoms het hy erken dat hy geweet het hy is met die menslike immuniteitsgebreksvirus (HIV) besmet en dat hy nie ’n kondoom gebruik het toe hy sy dogter in Mei 2025 verkrag het nie. Hy het verder erken dat hy, deur onbeskermde seksuele omgang met haar te hê terwyl hy geweet het hy kon haar met HIV besmet, die nodige opset vir die aanklag van poging tot moord gehad het.
Die hof het hom ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit en hy mag nie met kinders werk nie. Sy naam, wat aan Weslander bekend is, moet ook op die Nasionale Register vir Seksoortreders geplaas word.
Volgens die pleitooreenkoms is die meisie sy biologiese dogter. Hy en haar ma was uitmekaar en die kind het sedert sy vier jaar oud was by hom gewoon.
Op 23 Mei 2025 het sy lewensmaat hom glo van pornografiese materiaal op die meisie se selfoon vertel. Dit het hom kwaad gemaak en hy het sy dogter opdrag gegee om haar besittings te pak, met die voorwendsel dat hy haar na haar ma sou neem.
Hy het haar egter na ’n afgesonderde plek by ’n strand in Paternoster geneem. Daar het hy haar uit die voertuig laat klim, haar beveel om op haar rug te lê en haar verkrag. Hy het haar daarna huis toe geneem sonder om haar by haar ma af te laai.
Streekhofaanklaer Chandre Minnaar het tydens vonnisoplegging aangevoer dat die slagoffer weens haar ouderdom besonder kwesbaar was en op die volwassenes wat vir haar moes sorg, staatgemaak het.
Sy het beklemtoon dat die beskuldigde juis haar biologiese pa was, van wie sy beskerming en veiligheid moes kon verwag. Sy kennis van sy HIV-status en sy besluit om haar sonder ’n kondoom te verkrag, het die erns van die misdaad verder verhoog.
In ’n slagofferimpakverklaring wat met die hulp van Deonett Boltney, ’n hofvoorbereidingsbeampte, saamgestel is, het die meisie gesê sy was hartseer en kwaad oor wat haar eie pa aan haar gedoen het.
Sy het gesê sy het dit nie van hom verwag nie en dat hy haar grootliks teleurgestel het. Ondanks alles het sy hom steeds lief, omdat hy haar pa is.
Sy het ook haar kommer uitgespreek oor haar jonger sussie en boetie wat nou sonder hul pa sal moet grootword.
Adv. Adrian Mopp, Wes-Kaapse direkteur van openbare vervolgings, het die vonnis verwelkom en gesê geslagsgebaseerde geweld en geweld teen vroue en kinders bly ’n ernstige nasionale probleem.
Die NVG het gesê hy bly daartoe verbind om oortreders wat kinders seksueel misbruik en hul vertrouensposisie uitbuit, streng te vervolg.
LEES OOK: Gemeenskapsleier verkrag glo sy tienerdogter, probeer haar vermoor





