UPINGTON – Roberto Eiman se pragbeurt van 105 n.u.n. het sy span, Upington Dragons, Saterdag 31 Oktober na ‘n baie goeie oorwinning oor Upington Lions by Laerskool Upington se krieketveld gelei.
Ná twee agtereenvolgende oorwinnings en met die stert in die lug oor Carltonians en Kenhardt Northern Lions, het Upington Lions dié keer hard aarde toe gekom.
Upington Dragons het in die oggend die loot gewen en besluit om eerste te boul op ‘n kolfblad wat gunstig vertoon het vir kolf-en boulwerk.
Lions is vir 144 lopies in 29.2 boulbeurte uitgeknikker. André Williams, mediumsnelbouler van Dragons, het die meeste skade met goeie boulwerk (4/24) aangerig.

En toe kom Eiman se aanslag met sy flitsende kolf. Dié 35-jarige openingskolwer het Lions se boulers ongenadiglik na alle hoeke van die veld laat skarrel. Dié oudleerling van Hoërskool Upington het die lopietempo in die snikhete Upington-middagson versnel.
Aan die einde van ‘n opwindende Dragons-beurt was die bonkige tallisman steeds daar met ‘n onoorwonne 105 van 86 balle en sy span op 150/5 ná 28.3 boulbeurte.
LEES OOK: Klubkrieket | Lions, Tigers en Dragons wys mekaar die tande
Verkorte telkaart
Upington Lions (144 almal uit). Hein Stacsh (38, 23b), Gerrit Smits (30, 42b). André Williams (4/24), Mario Zachariah (2/21).
Upington Dragons (150/5). Roberto Eiman (105*), SJ Becker (3/37). Upington Dragons wen met vyf paaltjies, en Roberto Eiman is Speler van die Wedstryd.
Eagles vlieg hoog bo Carltonians
Ook op Saterdag 31 Oktober het die krieketklub Desert Eagles in die ander ZF Mgcawu-eendagwedstryd teen Carltonians die bordjies verhang. Die wenspan, voorheen genoem College, het die loot gewen en eerste gekolf.
Hulle is tot 127 lopies in 25.1 boulbeurte beperk. Kabelo Senyatho (43, 33b), Glenwynn Gouws (24, 31b) en Mohammed Tariq (16, 27b) was onder die lopiemakers.
Carltonians se Juandré van Kratenburg (3/17), Gerald Cloete (3/24) en Enzio Links (2/6) het die paaltjies laat kantel.
Carltonians (74 lopies almal uit in 26.5 bbe). Beste kolwer: Deshwin Swartz (30, 58b). Jonathan Visagie het in 8.5 bbe 4/18 laat spat. Die Pakistani Saood Ali het met sy draaiballe 3/19 laat kantel.
Desert Eagles wen met 53 lopies.






You must be logged in to post a comment.