Pieter Korkie
Pieter Korkie het vanjaar weer die Tour de Ghaap gewen. FOTO: Facebook

Tour de Ghaap | Bergfietsren laat wiel vir die 22ste jaar


ULCO – Verlede jaar se algehele wenner van die Tour de Ghaap-bergfietsren, Pieter Korkie, het vanjaar weer die mansafdeling in die langafstandren gewen. Korkie, ‘n mededingende Suid-Afrikaanse bergfiets- en padfietsryer, het dié fietsren wat oor twee dae strek en op 12 en 13 September plaasgevind het, in ‘n totale tyd van 4:22:21 kafgetrap, terwyl hy dit in 2025 in 4:18:33 voltooi het.

In die vroueafdeling het Johanet Heymann, wie deurlopend podiumplekke deur die land heen behaal, gewen deur dit in 5:34:14 te voltooi. Kort op haar spoor was Marisca Steyn met 5:58:13, wie dié afdeling in 2024 en 2025 in onderskeidelik 5:19:30 en 5:35:24 gewen het. Francine Duvenhage was derde (7:08:18).

Johanet Heymann, wenner in die vroueafdeling.
Johanet Heyman FOTO: Facebook / Tour de Ghaap

Vanjaar is Tour de Ghaap vir die 22ste keer deur Berg Landbouvereniging aangebied, en deelnemers beleef stof, klipperige hellings, en ook uitgestrekte Noord-Kaapse vlaktes. Vanjaar kon deelnemers op die eerste dag 45 kilometer (kort) of 75 kilometer (lank) trap, terwyl dag twee se afstand oor 50 kilometer gestrek het.

Jaco van Dyk (4:26:13) en Ryan van Niekerk (4:30:07) het onderskeidelik die tweede en derde posisie in die langafstand-afdeling ingeneem.

In die kortafstand vir mans was Reinardt van Heerden (o.16) eerste in 3:41:16; Regard Reyneke (o.16) tweede in 4:20:37, en Charles Bennett derde (4:29:57).

Muriel Richards het die kortafstand vir vroue in 5:23:33 gewen, met Magda Moller (6:12:21) tweede, en Ronel van Schalkwyk (6:17:41) derde.

Die drie mans wat podiumplekke ingeneem het.
Van links is Jaco van Dyk, Pieter Korkie en Ryan van Niekerk.

Feestelike naweek met Noord-Kaapse gasvryheid

Ulco dien as die middelpunt van aktiwiteite en op die kampeerterrein word ‘n feestelike ruimte geskep waar deelnemers, gesinne en ondersteuners vir ‘n naweek van sport en kameraadskap byeenkom. ‘n Mini-wedren vir kinders is ook by die kampterrein aangebied.

Wedrenorganiseerder Pieter Niemann vertel dat daar vanjaar meer nie-ryers as gewoonlik was, maar minder ryers. Die aangename kampomstandighede met Noord-Kaapse gasvryheid, vermaak en etes wat boonop verskaf word, maak daarvan ‘n ideale gesins- en kuiernaweek.

Op albei dae moes deelnemers deur water ry, en gladde en modderige dele aanpak. Die weersomstandighede was egter “perfekte fietsry-omstandighede” en die wind wat daar was, het fietsryers gehelp.

LEES OOK: Fietsspeke sing in 19de Tour De Ghaap in Noord-Kaap

Die vroue wat podiumplekke ingeneem het.
Van links is Francine Duvenage, Johanet Heymann en Marisca Steyn.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article