Hier is skaduwee, maar geen koelte
Hier is skaduwee, maar geen koelte. FOTO: Unsplash / Donald Giannatti

Ons is albei op pad na ons onderskeie kantore en wissel gou ‘n paar woorde in die verbygaan.

“Daar het nuwe intrekkers naby ons ingetrek, maar hulle is nie van die Noord-Kaap nie. Die man praat van ‘koelte’, ” skerts hy.

Ek wonder ‘n oomblik hieroor. Dan besluit ek om so dom te klink soos ek voel.

“Ek verstaan nie,” sê ek.

Hy glimlag. “Enige iemand wat lank genoeg in die Noord-Kaap bly weet dat daar in die somer geen koelte is nie. Niks is koel nie. Nêrens nie. Daar is net skaduwees.”

Ek lag. Dit is baie waar.

Inwoners van ander provinsies vertel maklik dat dit by hulle net so warm soos in die Noord-Kaap is.

Dit is gewoonlik mense wat nie ondervinding van die Noord-Kaapse somers het nie.

Hier is letterlik geen koelte nie en geen begrip van koel nie. Dit koel nie in die nagte af nie. Dit maak nie saak hoeveel lugversorgers of dakwaaiers of waterverkoelers jy aansit nie, dit bly warm.

Jy staan doodmoeg die volgende oggend op.

My logika sê dit is omdat ons brein nie geregistreer het dat dit nag was nie. Dit bly sweetwarm, selfs in die vroeë-oggendure.

Wildediere en vee skuil onder boompies wat skraps op die vlaktes sigbaar is.

Soms skuil hulle sommer in die skadukante van geboue.

Tuinvoëltjies raak opgewonde met die aanskakel van sproeiers, almal probeer net om in hierdie skreiende hitte te oorleef.

Wolke steek op, dieselfde wolke waai weg. Dag ná dag ná dag. Elke keer wanneer die wolke opsteek kry inwoners hoop.

Ons kan ‘n ver afstand aflê op hoop. In baie gevalle is dit in hierdie dorre provinsie wat ons staande hou – hoop.

Hoop op reën. Hoop op uitkoms.

Tot dan, skaar jouself in die skaduwee, want daar is nie koelte nie.

  • Vir nog rubrieke en meningstukke, lees hier en hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article