Sage oor skorsing: Stadsbestuurder hoor Donderdag of hy mag terugkeer

Thapelo Matlala in die hofsaal.
Thapelo Matlala in die hofsaal. FOTO: Charné Kemp

Die drama oor die volgehoue skorsing van Thapelo Matlala, stadsbestuurder van die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley, sal Donderdag 29 Januarie in die hooggeregshof in die stad op die spits gedryf word. Sy aansoek vir ’n verklarende bevel om na sy kantoor terug te keer, sal dan aangehoor word.

Matlala is in September geskors hangende ʼn ondersoek na bewerings van korrupsie en ander ongerymdhede. Sy skorsing het in Desember verval sonder dat ʼn tugverhoor gehou is. Hy wou op 5 Januarie weer begin werk. Sy kantoordeurslotte is egter verander en hy kon nie sy kantoor betree nie.

Sy aansoek vir ’n verklarende bevel spruit uit sy suksesvolle aansoek teen die speaker en burgemeester op 16 Januarie, wie se regspan toegegee het hulle het proseduriële foute in die raadsvergadering gemaak waarop daar besluit is om sy skorsing te verleng. Matlala se skorsing is deur die hof opgehef en Dipuo Peters, speaker, en Martha Bartlett, burgemeester, is bestraffende kostebevele in hul persoonlike hoedanigheid opgelê.

LEES OOK: ANC leadership at odds over deepening Sol Plaatje Municipality legal saga

Soos die beweerde “opdrag” van dr. Zamani Saul, ANC voorsitter, op dieselfde dag in ’n uitgelekte boodskap aan die ANC se provinsiale uitvoerende komitee se WhatsApp-groep, is ʼn aansoek om appèl ingedien “om die status quo” te handhaaf en is ʼn senior advokaat as deel van die regspan aangestel. Die egtheid van die gelekte boodskap is deur Deshi Ngxanga, die ANC se provinsiale sekretaris bevestig, terwyl Saul beweer het die WhatsApp-boodskap is “vals en deur kunsmatige intelligensie geskep”.

Appèlaansoek skort hofbevel op

Die aansoek om appèl is op Saterdag 17 Januarie, ʼn dag ná Peters en Barlett se hofnederlaag, ingedien. Adv. Patrick Ngutshana SC het verlede Vrydag as die nuwe bykomende lid van Peters en Bartlett se regspan by die hof verskyn.

Die raad se appèlaansoek skort die hofbevel op, wat beteken Matlala bly geskors. Hy het daarom die aansoek gebring vir ʼn verklarende bevel wat sy terugkeer as stadsbestuurder bevestig hangende die appèlaansoek, waarvoor die hof nog nie ʼn datum verskaf het nie.

Die speaker en die burgemeester het in hul betoë in die hof aangevoer hulle wil die skorsing verleng, want Matlala se lyfwagte het hulle op 5 Januarie bedreig laat voel, en hulle is bang hy intimideer getuies.

Konsternasie in raadsvergaderings

Die besluit om die appèlaansoek te bring het op 21 Januarie, net soos op 8 Januarie toe besluit is om Matala se skorsing te verleng, weer vir konsternasie in die spesiale raadsvergaderings gesorg, wat agter geslote deure plaasgevind het.

Volgens opposisiepartye het heelwat ANC-raadslede nie by die vergaderings op 8 en 21 Januarie opgedaag nie, wat hul party ʼn minderheid teenoor die opposisielede gegee het. Volgens opposisielede het Peters daarom enige stemming “soos die pes vermy want haar party sou verloor het”.

Op 21 Januarie het die vergadering ná drie ure ineengestort nadat die opposisielede uitgestap en daar nie meer ʼn kworum was nie. Opposisieraadslede was erg ontevrede omdat die speaker en burgemeester sonder die raad se goedkeuring die appèlaansoek ingedien het, wat regskoste behels. Na bewering het een ANC-raadslid sy mond verby gepraat en gesê die “ANC het besluit” om die appèlaansoek in te dien. Hy het glo probeer om sy stelling terug te trek.

LEES OOK: Man, who attacked clinic employees to appear in court op charges of assault

Nog ‘n twispunt was die verlenging van Busisiwe Mgaguli, wat ʼn misdaadrekord vir bedrog het, se aanstelling as waarnemende munisipale bestuurder. Die omstandighede van haar aanstelling word glo deur die Openbare Beskermer ondersoek.

Wetlikheid van volgehoue skorsing bevraagteken

Op die spesiale raadsvergadering van 8 Januarie het opposisiepartye die wetlikheid van die volgehoue skorsing bevraagteken en aangevoer die raad het nie die geleentheid gehad om die klagstaat te bestudeer nie.

Die burgemeester is glo beskuldig dat sy eensydig en onwettig opgetree het deur ‘n “klagstaat uit te reik” sonder die raad se mandaat. Ander raadslede het ook proseduriële foute, teenstrydighede en gebrek aan bewyse teen Matlala uitgewys.

Volgens teenwoordiges wou hulle die voorstel om Matlala se skors, debatteer en daaroor stem, “maar Peters het geweier om in die opposisiepartye se rigting te kyk en toegelaat dat ANC-raadslede blitsig die voorstel aanvaar en sekondeer, waarna sy die vergadering verdaag het. Geen stemming het toe plaasgevind nie,” sê die raadslid.

Tydens verlede Vrydag se spesiale raadsvergadering is die sakelys met betrekking tot die begroting sonder onenigheid afgehandel. Mgaguli, as waarnemende munisipale bestuurder, was afwesig weens “ongesteldheid”.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article