KIMBERLEY – Thapelo Matlala, stadsbestuurder van die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley, beplan om Vrydag na sy kantoor terug te keer in nog ’n poging om te begin werk nadat sy skorsingstydperk verval het.
Die speaker, Dipuo Peters, voer egter aan hy is steeds geskors ná ʼn besluit op Donderdag se spesiale raadsvergadering.
Toegang tot sy kantoor is vroeër vandeesweek bemoeilik nadat amptenare die slotte en toegangskode van die gangdeur wat na sy kantoor lei, verander het. Die raad het hom ook met ʼn interdik gedreig sodat hy nie kantoor toe kom nie.
Matlala se verdere pogings om Donderdag toegang tot sy kantoor te verkry nadat ʼn slotmaker ingeroep is, is deur sekere amptenare en politici verhoed. ’n Groot rusie het voor die betrokke deur ontstaan, waar EFF- en ANC-raadslede op mekaar geskree het oor ‘n vroeëre raadsvergadering.
Op die vroeëre vergadering het Matlala aanvanklik as stadsbestuurder langs Peters gesit. Sy elkeen van die meer as tien ANC-raadslede en ʼn EFF-raadslid wat nie teenwoordig was nie se naam en rede vir afwesigheid voorgelees. Daarna is die publiek en Matlala uitgestuur omdat die vertroulike verslag voorgelê sou word.
Volgens ingeligtes is die verslag oor die bewerings teen Matlala voorgelê en summier deur ANC aanvaar en gesekondeer, terwyl die opposisieraadslede eers daaroor wou debatteer voor ʼn stemming moet plaasvind.
KYK:
Ingeligtes sê die ANC-raadslede was in die minderheid en wou daarom ʼn stemming oor Matlala se terugkeer verhoed.
Opposisielede sou glo stem dat die speaker ingevolge die Wet op Munisipale Strukture weer inval, al is die tugproses hangende.
Opposisiepartye beskuldig die speaker, Dipuo Peters daarvan dat sy oneties opgetree en die vergadering summier verdaag het.
Pontsho Mocwana, EFF-koukusleier sê daar was verskeie proseduriële foute by ie vergadering.
“Die Speaker het versuim om die vloer oop te stel vir enige debat of oorlegpleging nadat die verslag ter tafel gelê is. Dis vererger deur haar se oënskynlike partydige optrede; sy het na regs na die ANC gekyk, en die persone wat die verslag aanvaar en sekondeer het raakgesien en die vergadering net daar verdaag. Die Speaker het talle besware en teenstrydige standpunte van ander raadslede bloot geïgnoreer.
“Enige verdere bespreking is effektief in die kiem gesmoor het. Op ’n tydstip het sy die vergadering verdaag maar die DA toegelaat om te koukus en toe met die vergadering voortgegaan,” sê Mocwana.
Bewerings is ook deur ingeligtes gemaak dat die skorsing spruit uit die Begrotingstoelae vir Infrastruktuur (BFI) van meer as R2 miljard van die Tesourie aan die munisipaliteit om die waterinfrastruktuur op te knap, geld wat deur “sekeres misbruik wil word vir die komende munisipale verkiesing.”

Peters het na die afloop van die vergadering gesê die VF Plus het die eerste klagtes teen Matlala in ʼn vergadering geopper.
“Die bewerings van die opposisie oor die onwettige verloop van die spesiale raadsvergadering is onwaar. Die raad het korrek opgetree, want prosedures is gevolg. ‘n Geleentheid vir ‘n koukus is verskaf, insette is gemaak, en bespreking is toegelaat. Ons het gehou by raadsreëls wat spreektyd beperk tot vyf minute per item.
“Ek het nie geweet dat die ANC-raadslede in die minderheid was nie.”
“Matlala bly geskors. ‘n Dissiplinêre komitee (DK) verhoor vind plaas op 13 Januarie. Die ondersoek is voltooi, en ‘n paneel is aangestel om die saak aan te hoor. Die uitkoms van die DK sal deur die raad aanvaar word.”
“Ons het probeer om ‘n interdik te verkry om Matlala te verhoed om die munisipaliteit binne te gaan. Ons is bekommerd dat hy met getuies sal inmeng, toegang sal verkry tot sensitiewe inligting, aangesien dokumente verdwyn het, en die moontlikheid van intimidasie van getuies.”
Sy verwerp die bewerings dat sekere mense en politici hul hande op BFI-toelae wil lê.
“Ek raai enigeen aan om bewerings van wangedrag by die polisie aan te meld,” sê Peters.
Matlala het vroeër aan joernaliste gesê “die regulasies bepaal dat indien die dissiplinêre proses nie binne drie maande begin het nie, verval die skorsing outomaties.”
Hy sê sy skorsing het outomaties in Desember verval, “daar is geen klaer nie, die aanklagte is “flou” en “opgeblaas”.
Sy prokureurs het Dinsdagaand aan die Speaker geskryf het om die wettigheid van die spesiale raadsvergadering te bevraagteken, waarna kwelpunte reggestel is.
Hy sê die interdik-aansoek is ’n “vermorsing van hulpbronne”.
Matlala bevraagteken die grondslag van die aanklagte teen hom, wat spruit uit mediaberigte in Augustus 2025 oor korrupsie, twyfelagtige tender-toekennings en onreëlmatige aanstellings.
“Ek het niks verkeerd gedoen nie, en bereid om dit in ’n tugverhoor te bewys.”
Matlala is “ernstig bekommerd oor vertragings met die munisipaliteit se BFI-projek weens sy afwesigheid van drie maande. “Ons moes al nuwe pype gelê het.”
Sy onmiddellike prioriteit is die voorbereiding van die munisipale begroting wat teen die einde van Mei goedgekeur moet word, asook openbare deelname vir die Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (IDP).
Met die plaaslike regeringsverkiesings wat later vanjaar plaasvind, meen Matlala druk op die munisipaliteit gaan toeneem.



You must be logged in to post a comment.