NovaNews

Rosyntjiebedryf oorskry tweede keer kerf vir rekordoes, ongeag uitdagings

Suid-Afrika is die land met die meeste produksoorte in rosyntjies.
Suid-Afrika is die land met die meeste produksoorte in rosyntjies. FOTO: Raisins SA
NovaNews

Rosyntjiebedryf oorskry tweede keer kerf vir rekordoes, ongeag uitdagings


UPINGTON – Voorlopige innamesyfers wys dat die Suid-Afrikaanse rosyntjiebedryf nóg ‘n uitsonderlike oesseisoen beleef het, met die 100 000 ton-kerf wat vir ‘n tweede jaar oorskry is.

Die voorlopige inname vir die seisoen, soos op 16 Julie, is ongeveer 100 656 ton – dit nadat die aanvanklike oesskatting slegs 86 500 ton was. Deel van die inname is die rekordoes wat boonop dié seisoen in die Olifantsrivierstreek behaal is.

Raisins South Africa verwelkom die hoër innamesyfer van 16%, veral ná die seisoen wat gekenmerk is deur buitengewone siektedruk en uitdagende produksietoestande. Die voorlopige inname per produksiegebied is 80 458 910 kg vir die Oranjerivierstreek, die rekordoes van 18 194 600 kg vir die Olifantsrivierstreek, en 2 002 032 kg vir die produksiegebied in Namibië.

Druiwe op droograkke.
Druiwe op droograkke. FOTO: Raisins SA

“Om vir die tweede agtereenvolgende jaar die 100 000 ton-kerf te oorskry, is ‘n besonderse prestasie, veral ná ‘n seisoen met buitengewone hoë siektedruk” sê Wessel Lemmer, uitvoerende hoof van Raisins South Africa.

Kommer het ook bestaan dat die hoë reënval die gehalteprofiel en samestelling van rosyntjies sou beïnvloed. Rosyntjies wat nog op drooggeriewe was, sowel as druiwe wat nog nie geoes is nie en aan reën blootgestel was, kon ook beïnvloed word.

“Die oorskryding van die 100 000 ton-kerf is ‘n bewys van die deursettingsvermoë, kundigheid en toewyding van ons produsente en die hele waardeketting.”

Hierdie prestasie bevestig opnuut Suid-Afrika se vermoë om deurlopend groot volumes rosyntjies van wêreldgehalte aan plaaslike en internasionale markte te lewer, sê Lemmer.

Vyfde grootste uitvoerder van rosyne

Suid-Afrika is die wêreld se vyfde grootste uitvoerder van rosyne, met meer as 90% van sy totale oes wat vir internasionale markte bestem is. Raisins South Africa verteenwoordig ongeveer 700 produsente.

Die twee belangrikste streke vir rosyntjieproduksie is die Oranjeriviervallei in die Noord-Kaap (88%) en die Olifantsriviervallei in die Wes-Kaap (12%).

Chantelle Kotzé, handelsmerk en verhoudingbestuurder van Raisins South Africa, sê Suid-Afrika is boonop die land met die meeste produksoorte, insluitend golden sultanas, Thompsons, SA sultanas en korente.

Sy sê die finale innamesyfer sal in Augustus bekend gemaak word. Klein volumes rosyntjies word steeds van enkele verpakkingsaanlegte verwag, sê sy.

LEES OOK: Back-to-school lunch box treat: Gooey oat, fruit and nut bars with dark chocolate

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article