Rondloperdiere in Ritchie wat heinings breek en waterpype stukkend trap het inwoners warm onder die kraag. Nie net berokken dié diere, hoofsaaklik beeste en varke, skade waarvoor die inwoners self moet opdok nie, maar vreet hulle in talle gevalle die kos van dié inwoners se diere. Hulle vertrap ook aanplantings op erwe in dié landelike dorp.
Die heersende voorkoms van bek-en-klouseer wat moontlik deur dié diere versprei kan word, is ‘n bykomende kwelling vir dié inwoners. Boonop dwaal van die diere ook in die nag rond, wat honde en inwoners onrustig maak.
‘n Inwoner vertel dat ‘n rondlopervarkbeer ‘n tyd terug deur twee aggressiewe Rotweiller-honde wat uit hul erf gekom het, byna aan flarde gebyt is.
“Dit was aardig,” vertel die inwoner. “Sover die vark hardloop, skree hy, en die honde byt. Die vark kon nie vir die honde weghardloop nie.” Hoewel die vark nie dood is nie, is hy erg beseer. Nie die vark of die honde se eienaars het glo tot die vark se redding gekom nie, en moes van die ander inwoners hulself in gevaar stel om die vark van die honde weg te kry.
Vermanings oor rondloperdiere onsuksesvol
Op ‘n WhatsApp-groep waaraan inwoners behoort, word dié rondloperdiere gereeld aangemeld en word inwoners gemaan om te verseker dat hul diere onder toesig wei en nie ander se eiendom betree nie.
Vermanings of versoeke is nie altyd geslaagd nie, en inwoners wend hulle na hetsy die skut van die Sol Plaatje-munisipaliteit, of die polisie vir ‘n formele klag.
Omdat Ritchie ‘n landelike gebied met groter erwe en plotte is, hou bykans alle inwoners diere aan – van hoenders, hase, duiwe, varke, skape, bokke, perde, tot beeste.
Meeste rondloperdiere nie eienaarloos
Ryno Griesel, waarnemende skutmeester by die munisipaliteit, sê ‘n skutmeester tree nie bloot op as ‘n “dierevanger” nie, en is sy rol onderworpe aan die toepaslike skutordinansie, provinsiale wetgewing en munisipale verorderinge. Die Wet op die Identifikasie van Diere, asook die Wet op Dieresiektes speel ook ‘n rol.
In ‘n gebied soos Ritchie is dit algemeen dat vee tussen plotte beweeg, oop veld en weiding tussen erwe voorkom, diere onder toesig van ‘n oppasser wei, en diere wettig op sekere gedeeltes mag beweeg.
“Die diere kan net geskut word as hulle eienaarloos is of jy nie die eienaar kan identifiseer nie,” sê hy en beklemtoon dat alle diere volgens die Wet op Identifikasie van Diere op die toepaslike manier gemerk moet wees.
Wanneer hy diere opmerk wat nie identifikasiemerke het nie, kontak hy die polisie se veediefstaleenheid.
Hy vertel dit gebeur telkens dat hy vanaf Kimberley na Ritchie ry nadat diere wat oënskynlik sonder ‘n oppasser wei, aangemeld is. Sodra hy daar aankom, verskyn ‘n oppasser in die meeste gevalle wie dan net “gou” elders was.
Hoewel rondloperdiere ‘n daadwerklike probleem in Ritchie is, is min van dié diere eienaarloos. Die rondloopdiere is uit en uit weens ‘n weidingsprobleem, sê hy en noem dat talle plotte oorbewei is. Weens hierdie rede word diere uitgejaag om elders te wei.
Dié diere moet egter onder die toesig van ‘n oppasser wei.
Griesel stel voor dat indien iemand se diere jou eiendom beskadig, ‘n saak van beskadiging van eiendom by die polisie gemaak moet word aangesien dit nie ‘n skutaangeleentheid is nie. Net so behoort die polisie ook genader te word sou iemand met opset jou heiningdrade knip sodat hul vee toegang tot jou eiendom kry.
Elke klagte op eie meriete beoordeel
Inwoners van Ritchie beweer egter dat polisielede in Ritchie teensinnig is om sulke sake te open. Luitenant-kolonel Thabo Litabe, polisiewoordvoerder, sê die polisie in die Noord-Kaap neem kennis van hierdie bewering.
Litabe sê voorts dat lede van die publiek die reg het om hul plaaslike polisiekantoor te nader om vermoedelike misdadige gedrag aan te meld. Polisielede behoort nie bloot te weier om ‘n klaer by te staan sonder om die aard van die klagte behoorlik te beoordeel en die klaer dienooreenkomstig te adviseer nie.
“Elke klagte word op sy eie meriete beoordeel, en waar die aangemelde gedrag ‘n misdryf uitmaak, sal die saak volgens die wet en toepaslike polisie-prosedures hanteer word. Handelinge soos die opsetlike en onwettige beskadiging van ‘n ander persoon se eiendom kan ‘n kriminele oortreding uitmaak, afhangende van die omstandighede en die beskikbare bewyse.
“Die opsetlike sny of beskadiging van ‘n heining op privaat eiendom kan byvoorbeeld neerkom op kwaadwillige beskadiging van eiendom. Waar vee of rondlopende diere skade aan eiendom aanrig, moet die omstandighede rondom die voorval beoordeel word om vas te stel of ‘n kriminele oortreding gepleeg is en of die saak van ‘n siviele aard is,” sê Litabe.
Hy stel voor dat indien enige lid van die publiek ‘n klagte het oor die gedrag van of diens ontvang van polisie-lede, hulle aangemoedig word om die saak by die stasiebevelvoerder of die toepaslike polisie-bestuurstrukture aan te meld vir aandag.
‘Ek wil dit beter maak’
Intussen sê ‘n inwoner van Ritchie met ‘n verwysing na die frustrasie met rondloperdiere, water- en kragonderbrekings, gebrek aan vullisverwydering en swak paaie: “Dit gaan seker oral so, maar ek bly nie daar nie. Ek bly hier, en wil dit graag beter maak.”
LEES OOK: Inwoner veg om lewe ná gevulde munisipale watertenk op hom val





