Om die lirieke aan te haal: “Love is in the air.” Winkels is vol rooi hartjies, heerlike sjokolade en teddiebere. Die boodskap word duidelik oorgedra – dit is tyd om weer spesiale aandag aan die spesiale persoon in jou lewe te gee.
Mense gaan uit hul pad om hierdie dag vir hul geliefdes spesiaal te maak. Rooi is die kleur wat tradisioneel met hierdie dag vereenselwig word, maar deesdae wissel die kleure ook tussen donkerpienk en pers.
Navorsing sê dat lekkergoed die gunsteling Valentynsdaggeskenk is, maar dat sagte speelgoed en juweliersware ook gewild is. Onderwysers en onderwyseresse kry die meeste geskenke op hierdie bloedrooi-hartjie-dag. Deesdae word daar hierdie tyd van die jaar selfs baie geld op troeteldiere bestee.
Die waarheid is ongelukkig dat daar mense is wat die spesiale mense in hul lewe sleg behandel, maar op Valentynsdag uit hul pad gaan en enorme bedrae bestee om dit vir dieselfde mense spesiaal te maak. Is eenmalige juweliersware of sjokolade of ‘n romantiese wegbreek genoeg om vir die res van die jaar se wangedrag op te maak?
Hierdie manier van (oor)doen kan dalk bydrae tot die ongeveer $150 biljoen wat jaarliks wêreldwyd op hierdie geleentheid bestee word.
Almal stem nie noodwendig met hierdie jaarlikse instelling saam nie, maar iewers moet ‘n mens saamstem dat jy aan die spesiale persoon in jou lewe spesiale aandag moet gee.
Dalk moet ons nie vir ‘n spesiale dag wag om vir diegene wat vir ons spesiaal is dit te wys of te sê nie. Die lewe is kort. Tyd stap aan. Ons gaan almal iewers met selfverwyte sit.
Kom ons wys of sê vir iemand as hulle ‘n spesiale invloed op ons lewe het. Voordat dit te laat is.


