Good news
‘n Mens raak versadig van knaende slegte nuus. FOTO: Unsplash / Jon Tyson

‘n Tyd gelede stap ek deur ‘n plaaslike winkelsentrum. ‘n Jong man stap my tegemoet en vra:

“Is tannie tannie Karin?” Ek talm ‘n oomblik en antwoord: “As dit goeie nuus is, is ek tannie Karin. As dit slegte nuus is, is ek nie tannie Karin nie.”

Die afgelope tyd was slegte nuus aan die orde van die dag.

Nie net plaaslik nie, maar ook wêreldwyd.

Die slegte nuus ten opsigte van Ekapa-myn het skokgolwe deur die gemeenskap veroorsaak.

Soms voel dit vir ‘n mens asof jy ‘n versadigingspunt met slegte nuus bereik het.

Dit is asof jy die deur in slegte nuus se gesig wil toeslaan en dit verontagsaam om te wys dat jy nie vir die aanhoor van slegte nuus beskikbaar is nie.

Dit sou soveel makliker wees as slegte nuus in spesifieke mates afgemeet was en periodiek op voorafbepaalde tye afgelewer word. Veral as ‘n mens vroegtydig oor die slegte nuus ingelig sou kon wees en jouself daarop kon voorberei.

Ongelukkig is dit nie hoe ons wêreld daar uitsien nie.

Daar is geen regverdige afmeet en aflewer van slegte nuus nie.

Daar word nie rekord gehou van wanneer watter slegte nuus aan wie gegee is, en daardie spesifieke mense word met die volgende slegte nuus oorgeslaan nie.

Vloedgolwe van slegte nuus kan jou die een ná die ander tref. Jy het nog nie van die een brokkie slegte nuus herstel nie, of die volgende brokkie slegte nuus slaan jou voete onder jou uit.

Mense probeer oorleef. Ongeag soveel slegte nuus beur mense vorentoe op soek na oplossings en antwoorde.

Ondersteuningsgroepe word gestig. Mense help en word gehelp. Ons moet sterk staan. Ons moet moed hou. Iewers moet daar wel oplossings wees.

  • Lees nog rubrieke hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article