‘n Derde en deurslaggewende doel in die 80ste minuut het ‘n belangrike sege van 4-2 vir Hungry Lions van Postmasburg oor die Pretoria Amatuks in die Motsepe Foundation Championship-reeks (MFC) verseker.
Tydens rustyd van dié wedstryd op Woensdag 22 April in die Dicky Jacobs-stadion in Upington, het Hungry Lions die voortou met 1-0 geneem. Ronaldo van Neel, regtervleuel van Hungry Lions, het ‘n doel vanaf die strafmerk geskiet ná ongeoorloofde spel deur die besoekers.

In die tweede helfte het Hungry Lions verder die voortou geneem ná twee puik doele deur Ryan Petersen en Jackson Dondolo. Dié aanskoulike wipplankstryd was nog in die weegskaal nadat Thabo Mkwenu, skitterende doelskieter van Amatuks van die Universiteit van Pretoria, sy span met twee doele in die prentjie gehou het.
Sowat 10 minute voor die einde van die wedstryd het Amatuks se doelwagter misgetas na ‘n rollende bal wat ‘n spanmaat na hom gevoer het. Die bal het toe in hul doelhok beland wat die uitslag tot 2-4 in Hungry Lions se guns te staan gebring het.
Hierdie oorwinning beteken dat Hungry Lions ‘n groot bedreiging vir Cape Town City en Milford Football Club inhou wat gesamentlik tweede op die Motsepe-puntelys was.
Ná Hungry Lions se nuutste sege is dié Noord-Kapenaars tweede op die puntelys met 47 punte. Cape Town City en Milford Football Club is nou gesamentlik in die derde plek met 44 punte.
Kruger United Football Club is tans eerste op die Motsepe-puntelys met 52 punte.
LEES OOK: Motsepe Foundation-liga | Veglus red nie tuisspan op Dicky Jacobs-stadion nie




