Hoofartikel: Wat jou laat stop.
Stop vir ‘n oomblik en oordink hierdie mening. FOTO: Helena Barnard

MENING | Skakel tog ‘Caps Lock’ af en moenie so in hoofletters praat nie


Glo dit of nie, maar vandeesweek word ‘n dag gevier om die gek te skeer met diegene wat in die kuberruimte alles in HOOFLETTERS tik.

Internasionale Caps Lock-dag op 22 Oktober herinner mense daaraan dat as jy alles in “Caps Lock” tik, jy in werklikheid vir lesers skree.

Om alles in hoofletters te tik word as kuber-luidrugtigheid beskou, dit dwing aandag af, raak vinnig irriterend (probeer om drie of meer paragrawe lank te skree – geen stem kan dit hou nie), en dit is boonop moeilik om te lees.

Eienskappe van hierdie Caps Lock-gedrag herinner so bietjie aan die huidige politieke landskap in Suid-Afrika en dit wil voorkom asof sommige politici boonop Caps Lock kan praat.

In verkiesingsmanifeste word die beloftes oor die herstel van basiese dienslewering, uitroei van korrupsie en die herstel van infrastruktuur in spreekwoordelike Caps Lock uitgeroep.

Maar die oormatige gebruik van Caps Lock maak nie teks of beloftes meer betekenisvol nie, en verseker nie volgehoue aandag of sukses nie.

Net soos wat die brein of oë oor paragrawe met slegs hoofletters strompel, kan diegene wat beloftes maak oor die einste beloftes strompel.

Daar is juis ‘n spreekwoord wat reken “beloftes maak skuld, wie dit glo raak gekuld” en in Engels die heel amusante “promises are like piecrust, made to be broken.”

LEES OOK: Northern Cape launches R98 million road blitz to restore Kimberley’s pride

Gepraat van beloftes wat skuld maak: Só is die sogenaamde “Yellow Fleet” al ‘n klompie maande terug in die Noord-Kaapse hoofstad bekendgestel “to restore Kimberley’s pride,” deur onder meer die herstel van slaggate.

Met die dreuning van so ‘n vloot masjinerie het ‘n mens meer verwag. Maar o wee.

‘n Mens kan nie eens jou hande saamslaan of jou oë na die hemel rig wanneer jy hoppend, hikkend en stikkend deur Kimberley se groter- en dieperwordende slaggate navigeer nie.

Jy het elke sintuig nodig om jou voertuig op die pad en tipe van uit die gate te hou.

Terug na hoofletterbeloftes: Uit ervaring weet ‘n mens dat hoofletterpraatjies oor beloftes ná ‘n verkiesing soveel kere in kleinletters verander, en hoofletterbeloftes word met verskonings vervang.

Internasionale Caps Lock-dag is begin om die spot te dryf met mense wat dié knoppie op die rekenaarsleutelbord misbruik. Wie met wie en met wat die spot ná die verkiesing gaan dryf, sal Vadertjie Tyd ons leer.

Want die ware toets vir plaaslike regerings lê nie in die Caps Lock-geraas van die veldtog nie, maar in die daaglikse, stil werk van dienslewering wat ná die tyd in kleinletters plaasvind.

LEES OOK: Northern Cape government’s R98 m ‘Yellow Fleet’ idle as city crumbles

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article