Dipuo Peters, speaker van die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley wat voorheen reeds twee keer deur die hof beveel is om in haar persoonlike hoedanigheid regskoste te betaal, mag dalk ʼn derde kostebevel teen haar kry nadat haar regsaansoek Vrydag gefaal het om opposisieraadslede se petisie-raadsvergadering met ʼn interdikaansoek te keer.
In Vrydag se virtuele raadsvergadering het opposisieraadslede met behulp van vyf ANC-raadslede wat teen hul party se besluite rebelleer, ʼn kworum gevorm. Die meerderheid ANC-raadslede was afwesig.

Tydens dié geskiedkundige sitting is die DA se Elize Niemann as waarnemende speaker verkies, terwyl raadslid Dennis Pienaar van die Sol Plaatje-diensleweringsforum as waarnemende burgemeester opgetree het.
Die uitstaande begroting en die Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) is toe ter tafel gelê en goedgekeur.
LEES OOK: Sol Plaatje’s Speaker pays R193 000 in legal costs after sheriff enforcement
Die vergadering is virtueel gehou ná die vorige petisie-raadsvergadering wat ook deur die opposisie-raadslede geroep is omdat mense in die galery eiers na DA-raadslede gegooi en pepersproei gespuit het. Tydens die vergadering het ANC- en EFF-lede heeltyd op mekaar geskreeu. Die vergadering het weens al dié chaos ineengestort.
Dit alles gebeur nadat Bentley Vass, LUR vir samewerkende regering, die Sol Plaatje-raad gewaarsku het dat hulle op die rand van provinsiale ingryping staan ingevolge Artikel 139 weens die voortdurende ineenstorting van basiese dienslewering en ernstige finansiële wanbestuur. Sy waarskuwing fokus op die raad se onvermoë om die nodige omkeerstrategieë te implementeer en kritieke vakatures behoorlik te vul. Dit sal die provinsie dwing om die raad se magte oor te neem of ‘n administrateur aan te stel om verdere administratiewe verval in Kimberley te stuit.
Opposisiepartye meen egter die ANC wil die munisipaliteit onder administrasie plaas om hul hande op die Begrotingstoelae vir Infrastruktuur (BFI) op die vooraand van die munisipale verkiesings te lê. Die BFI van R2,5 miljard is geoormerk om die stad se verouderde waterinfrastruktuur op te knap.
LEES OOK: Matlala returns to Sol Plaatje Municipality, dismisses corruption charges as ‘trumped up’
Die jongste verwikkelinge het gevolg op Peters en Martha Bartlett, burgemeester, se pogings om van Thapelo Matlala, stadsbestuurder, wat van korrupsie verdink is, ontslae te raak. Peters en Bartlett het vroeër in die hof toegegee regulasies is tydens die tugproses verontagsaam en die sperdatum het verval sonder dat die ondersoek voltooi is. Hul gevolglike regsaansoeke om Matlala te skors het misluk en kostebevele is teen hulle toegestaan. Matlala het intussen weer begin werk.
Die rits hofsaansoeke beloop volgens ʼn ingeligte bron reeds R3,5 miljoen. Opposisieraadslede het reeds kapsie gemaak en gesê hulle het nie die twee amptenare toestemming gegee om openbare geld vir die hofaansoeke te gebruik nie.
‘Dienslewering mag nooit as gyselaar gehou word deur politiekery nie’
Volgens die DA is die virtuele raadsvergadering “ ‘n deurslaggewende oorwinning vir die opposisie in wat beskryf is as faksiebelange en politieke sabotasie”.
Die DA-koukusleier, Heinrich Pieterse, het die uitkoms as ‘n groot sukses vir die inwoners van die stad bestempel. “Dit is ‘n beduidende oorwinning vir die Sol Plaatje-munisipaliteit en sy inwoners. Behoorlike prosesse en aanspreeklikheid het geseëvier. Ons ingryping verseker die raad kom sy statutêre verpligtinge na en dienslewering mag nooit as gyselaar gehou word deur politiekery nie”.
Omdat die raad die uitstaande begroting en die GOP ter tafel kon lê, is verhoed dat die munisipaliteit ingevolge Artikel 139 onder provinsiale administrasie geplaas word.
“Die hooggeregshof in Kimberley het Peters se interdikaansoek teen die virtuele raadsvergadering verwerp en sodoende bevestig geen politieke figuur is bo die wet verhewe nie. Die hof het die speaker selfs berispe vir die voortsetting van beuselagtige litigasie op die belastingbetaler se onkoste,” sê Pieterse.
LEES OOK: Chaos met eiergooi en pepersproei in raadsvergadering ‘doelbewuste nuwe taktiek’
Die opposisieraadslede het in ‘n doelbewuste skuif “om stabiliteit te herstel en die speaker se teenkanting te omseil, die Ingrypingsklousule, Artikel 29(1A) van die Wysigingswet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels van 2021 in werking gestel.”
Dié wetgewing bemagtig die stadsbestuurder om die vergadering te belê omdat die speaker versuim het om aan die versoek vir ‘n vergadering te voldoen.
Die klousule is ingestel om doodloopstrate in die bestuur van munisipaliteite op te los, spesifiek wanneer ‘n stadsraad weens politieke onstabiliteit of binnegevegte nie funksioneer nie.






You must be logged in to post a comment.