ekapa-myn gelikwideer
Ekapa-mynwerkers tydens ʼn vroeëre betoging voor die myn se ingang. FOTO: Charné Kemp

KIMBERLEY – Die hooggeregshofsaal in Kimberley was Vrydag 17 April stampvol met vakbondlede wat die likwidasie van die Ekapa-myn in die stad teenstaan in afwagting van ʼn finale bevel.

Die likwidasie-aansoek is egter tot 30 Oktober uitgestel nadat die hof ʼn aansoek goedgekeur het om die voorlopige likwidateurs te magte uit te brei.

Die aansoek is voorafgegaan deur ʼn modderstorting in Februarie waarin vyf mynwerkers dood is. ʼn Week daarna het die werkers op 25 Februarie hul salarisstrokies ontvang, maar hulle het nie hul salarisse ontvang nie. Kort daarna het die myn aangekondig hy gaan sy deure sluit en is die werkers sonder ander heenkome gelaat.

LEES OOK: Ekapa-likwidasie: Werknemers voel oorgelaat aan eie lot; pensioene bevries

Kan ‘n kritieke stap wees

Dit blyk uit die myngroep se aansoeke om likwidasie dat swak internasionale diamantpryse die afgelope jare die begin van die einde was.

Die likwidasie-aansoek is ook uitgestel sodat die myn sy mynreg met ʼn voorlopige likwidasie kan behou, wat dit meer waardevol maak as wanneer die myn finaal gelikwideer is. Dit vermaklik dit om die maatskappye aan belangstellendes te verkoop.

‘n Aansoek deur die voorlopige likwidateurs van Ekapa Mining om hul magte uit te brei, kan ‘n kritieke stap wees in die bestuur van die myn se bates terwyl die finale likwidasieproses nog hangende is.

So ’n aansoek is gewoonlik om van ‘n passiewe bewaarder-rol na ‘n aktiewe bestuursrol oor te skakel.

LEES OOK: Likwidasie-aansoek: Ekapa-myn op sy ‘knieë gedwing’; kommersieel insolvent

In ‘n standaard voorlopige likwidasie is die likwidateurs se primêre taak bloot om die bates te bewaar. Hulle mag nie sommer belangrike bates verkoop of langtermynkontrakte aangaan sonder spesifieke hofbevele of toestemming van die skuldeisers nie.

Die uitbreiding van magte word gewoonlik versoek omdat ‘n myn nie net afgeskakel kan word soos ‘n winkel nie; infrastruktuur soos pompe en veiligheidstelsels moet in stand gehou word om waarde-vermindering te voorkom.

Uitgebreide magte gee likwidateurs ‘n geleentheid om die myn as ‘n lopende saak te verkoop, wat gewoonlik meer geld vir skuldeisers inbring as om die bates stuk-stuk op ‘n veiling te verkoop.

Hulle kan regsgedinge namens die myn instel of verdedig en kan met die nodige kontrakte aangaan om die waarde van die bates te beskerm. Formele skikkings kan met skuldeisers aangegaan word om eise vinniger af te handel.

Ontvang aanmaningsbriewe

In sy funderende verklaring het Jahn Hohne, ‘n direkteur van Ekapa Minerals en Ekapa Mining van die Ekapa-groep aangevoer dat die maatskappy voor die voorval van 17 Februarie finansieel gesukkel het weens swak diamantpryse en kompetisie met sintetiese diamantpryse, asook stygende bedryfskoste.  

Teen Februarie vanjaar het die maatskappy minstens ses aanmaningsbriewe van krediteure ontvang wat agterstallige betalings eis.

Die maatskappy het op 13 Februarie 2026 met ‘n afleggingsproses begin, wat na verwagting sowat 188 werknemers sou raak.

Die “onvoorsiene en katastrofiese modderstorting” op 17 Februarie 2026 by die Joint Shaft-myn het vyf mynwerkers ondergronds vasgekeer. Ondanks voortgesette soek-en-reddingspogings, het kameras wat in boorgate laat sak is slegs water en modder gevind, wat aandui daar is geen oorleefbare toestande nie.

Die modderstorting het omvattende skade aan ondergrondse infrastruktuur aangerig, wat mynareas ontoeganklik gemaak en produksie tot stilstand gebring het.

Die maatskappy benodig miljoene rande om die skade te herstel en die myn weer operasioneel te kry, geld wat hy nie het nie.

LEES OOK: Ekapa: Laaste twee liggame gevind ná modderstorting in myn vyf vaskeer

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article