Ekapa Minerals Kimberley
Die Joint Shaft-skag. FOTO: Charné Kemp

Ekapa: Laaste twee liggame gevind ná modderstorting in myn vyf vaskeer


KIMBERLEY – Die liggame van twee volwasse mans is omstreeks 02:00 op Maandag 23 Maart in ‘n diamantmyn van Ekapa Minerals gevind. Met dié vonds is die liggame van al vyf mynwerkers wat op 17 Februarie ná ‘n ondergrondse modderstorting by Du Toitspan Joint Shaft vermis geraak het, gevind.

Die eerste liggaam is op Maandag 9 Maart gevind, en nog twee liggame op Sondag 22 Maart.

Kolonel Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder, sê geregtelike doodsondersoeke vind na aanleiding hiervan plaas.

Die Noord-Kaapse polisiekommissaris, luitenant-generaal Koliswa Otola, het haar innige meegevoel met die families en kollegas van die mynwerkers, wat hul lewe in hierdie tragiese voorval verloor het, uitgespreek. Otola het die reddingspanne en ondersteuningspersoneel geprys vir hul onvermoeide pogings in gevaarlike omstandighede om te verseker dat die mynwerkers gevind word.

‘n Onvoorspelbare en massiewe modderstorting in die vroeë oggendure van 17 Februarie het die vyf mynwerkers op ’n diepte van sowat 890 meter vasgekeer. Dit is onder meer veroorsaak deur skalie en rotse wat weens reënwater verweer het en as ’n gewelddadige stroom modder in die tonnels ingestroom het.

LEES OOK: Minister waarsku oor skrale kans op oorlewing ná mynramp in Kimberley

Charné Kemp het vroeër berig dat dié verskynsel, wat dikwels met ’n kragtige lugstroom gepaard gaan, in mynjaarverslae as iets vreesaanjaend beskryf word wat alles in sy pad wegvee.

Reddingspanne van Mines Rescue Services (MRS) en proto-spanne het sedert die voorval onvermoeid teen stygende watervlakke en massiewe blokkasies geveg om by die vasgekeerdes uit te kom. In sommige dele van die myn het die modder tot teen die dak gestoot, wat dit vir reddingswerkers byna onmoontlik gemaak het om die vermiste werkers te bereik sonder om hul eie lewe in gevaar te stel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article