NOORD-KAAP – Die uitgerekte reddingsoperasie by die Joint Shaft-diamantmyn in Kimberley het na bewering vanoggend ’n deurbraak bereik met die vonds van nog twee, moontlik drie, liggame diep onder die grond by die Ekapa-myn waar ‘n modderstorting op 17 Februarie vyf mynwerkers vasgekeer het.
So het ‘n ingeligte Sondagoggend (22 Maart) beweer.
Kol. Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder, het vroeër vanoggend gesê “dit is ‘n aktiewe toneel” vir die herwinning van oorskot. Sy het gesê dat “ander rolspelers soos die mynbestuur en ander owerhede later ‘n verklaring sal uitreik”. Sy wou nie die berigte bevestig nie.
Jahn Hohne, uitvoerende hoof van Ekapa Minerals (Edms) Bpk en Ekapa Resources (Edms) Bpk het intussen in ‘n verklaring bevestig dat die liggame van nog twee myners vanoggend herwin is, wat die totaal tot op drie bring. Hy het gesê die families is reeds in kennis gestel.
“Die maatskappy bied sy innige simpatie met die families, kollegas en geliefdes van die oorledenes in hierdie ongelooflike moeilike tyd,” het Hohne gesê.
Intussen het reddingspanne ook visuele kontak met ‘n vierde mynwerker gemaak. Daar word tans gewerk om op ‘n veilige manier ook dié oorskot te herwin sodra toestande dit toelaat.
“Spanne werk steeds na die finale gebied waar die oorblywende mynwerker vermoedelik geleë is. Alhoewel daar nog grond is wat skoongemaak moet word, is daar ‘n moontlikheid dat die oorblywende mynwerker naby die ander mag wees, maar dit kan eers bevestig word sodra die gebied volledig toeganklik is,” lui die verklaring.
Die nuus volg op die troosdiens van die eerste mynwerker wie se liggaam reeds gevind is, en wat Vrydag gehou is.
Die tragedie het in die vroeë ure van 17 Februarie 2026 begin toe ’n onvoorspelbare en massiewe modderstorting die myn getref het. Vyf mynwerkers is op ’n diepte van sowat 890 meter vasgekeer nadat skalie en rotse weens reënwater verweer en as ’n gewelddadige stroom modder in die tonnels ingestroom het.
Die verskynsel, wat dikwels met ’n kragtige lugstroom gepaard gaan, word in mynjaarverslae as vreesaanjaend beskryf wat alles in sy pad wegvee.
Reddingspanne van Mines Rescue Services (MRS) en Proto-spanne het sedert die voorval onvermoeid teen stygende watervlakke en massiewe blokkasies geveg. In sommige dele van die myn het die modder tot teen die dak gestoot, wat dit vir reddingswerkers byna onmoontlik gemaak het om die vermiste werkers te bereik sonder om hul eie lewens in gevaar te stel.
Die minister van minerale en petroleumbronne, Gwede Mantashe, het tydens ’n vroeëre besoek aan die myn aangedui dat die kans op oorlewing minimaal was en dat die fokus moes verskuif na die herwinning van die liggame om aan die families afsluiting te bied.
Vir die families was die afgelope weke ’n “wipplank” tussen hoop en wanhoop. Priscilla Damon, wie se man Connwille een van die vasgekeerdes was, het beskryf hoe sy weens die spanning nie kon slaap of eet nie, terwyl hul sesjarige seuntjie aanhoudend na sy pa gevra het. Ander families het ook hul diepe frustrasie uitgespreek oor wat hulle as teenstrydige kommunikasie en ’n gebrek aan deursigtigheid van die mynbestuur ervaar het.
Die gemeenskap van Kimberley het die donker tyd saamgestaan, met plaaslike inwoners en selfs laerskoolkinders wat kos en energiedrankies aan die uitgeputte reddingswerkers verskaf het.
Hoewel die vonds die dodetal amptelik laat styg, duur die soektog na die oorblywende vermistes voort.
Volgens die owerhede sal ’n deeglike ondersoek deur die hoofinspekteur van myne eers begin sodat die presiese oorsaak van die ramp bepaal kan word sodra alle liggame herwin is.
Die minister het herhaal dat hoewel die doelwit “nul skade” is, mynbou inherent ’n gevaarlike bedryf bly wat vrywillige risiko’s behels.
Terwyl die soek-en-reddingspogings voortduur, is Ekapa Minerals (Edms) Bpk en Ekapa Resources (Edms) Bpk op 3 Maart 2026 onder voorlopige likwidasie geplaas.
Ekapa het aangevoer dat die wêreldwye diamantmark die afgelope twee jaar in duie gestort het, wat die myn se lewensvatbaarheid onder druk geplaas het. Die maatskappy beweer dat die onlangse ramp ’n sleutelproduksiegebied ontoeganklik gemaak het, wat die voortsetting van bedrywighede onmoontlik gemaak het


