Noordkaap Bulletin

Ekapa-myn as ‘lopende saak’ te koop in poging om nalatenskap van 158 jaar te red

Ekapa-myn
Die Ekapa-myn en sy bedrywighede is te koop. FOTO: Charné Kemp
Noordkaap Bulletin

Ekapa-myn as ‘lopende saak’ te koop in poging om nalatenskap van 158 jaar te red


Die Ekapa-diamantmyn in Kimberley wat op sy knieë gedwing is weens wêreldwye swak diamantpryse en ‘n mynongeluk in Februarie waarin vyf werkers in ‘n modderstorting omgekom het, word as ‘n lopende saak te koop aangebied.

Met hierdie gebeure was Ekapa Minerals (Pty) Ltd en Ekapa Resources (Pty) Ltd genoodsaak om aansoek te doen vir voorlopige likwidasie en in die proses het 1 500 mense hul werk verloor.

LEES OOK: Likwidasie-aansoek: Ekapa-myn doen aansoek om uitstel

Die gesamentlike likwidateurs bied die myn te koop aan om die myn se geskiedkundige nalatenskap van 158 jaar te probeer red.

Dié wending is bekend as Projek Kimberley 158. WH Auctioneers en Park Village Auctioneers is aangestel om kopers te vind.

Uiteenlopende bates deel van aanbod

Bates wat te koop is, sluit drie van die stad se “Beroemde Vyf” kimberlietpype in wat Wesselton-, Bultfontein- en Du Toitspan-myn is.

Die Du Toitspan-myn is veral bekend as die tuiste van die reuse 616-karaat agtvlak-diamant (Oktaëder). Dit is ‘n massiewe 616-karaat steen wat in kristalvorm gevind is. Du Toitspan-myn is ook oor die wêreld heen beroemd vir die produksie van hoëgehalte glansryke geeldiamante (Vivid Fancy Yellow).

Geel diamante is van die mees gesogte en waardevolste diamante ter wêreld.

Die gekombineerde behandelings-aanleg (CTP), wat ‘n kapasiteit van 9,6 miljoen ton per jaar het, asook die 70-m hoë diamantherwinningstoring wat ‘n bekende baken in die Kimberley-landskap is, is deel van die aanbod.

Die myn het nagenoeg 140 miljoen ton se gekombineerde ondergrondse en oppervlakreserwes.

Hoewel die Bultfontein-pyp reeds uitgemyn is, bied die Wesselton-skag op ‘n diepte van 1 020 meter en die Du Toitspan-skag “aansienlike potensiaal vir lewensverlenging deur verdere diepvlakontwikkeling,” luidens die afslaers se advertensie.

Likwidateurs poog om ‘n koper te vind wat nie net die mynregte en infrastruktuur sal oorneem nie, maar ook met die bedryf kan voortgaan.

Die beskikbare arbeidsmag is 900 werkers, wat hopelik werksgeleenthede kan behou.

Belangstellende partye, wat wissel van internasionale diamantgroepe tot strategiese beleggers, het 90 dae om hul aanbiedinge teen 14 Augustus in te dien.

LEES OOK: Ekapa: Laaste twee liggame gevind ná modderstorting in myn vyf vaskeer

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article