Regter kap speaker oor interdik, Peters moet moontlik self vir regskoste opdok

Kimberley raadsvergadering
Dipuo Peters. FOTO: Charné Kemp

KIMBERLEY – Die regsverteenwoordiger van Dipuo Peters, speaker van die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley, moes verlede Vrydag in die hooggeregshof bontstaan om waarnemende regter T. Tyuthuza se indringende vrae te beantwoord oor Peters se dringende interdikaansoek om ʼn spesiale raadsvergadering te halt.

Nadat die regter die aansoek afgekeur het, is die raadsvergadering laat Vrydagmiddag deur opposisieraadlede en vyf uitgeweke ANC-lede gehou, wat ʼn kworum gevorm het. Die meerderheid ANC-raadslede was afwesig.

In die vergadering gelei deur Thapelo Matlala, stadsbestuurder, het die opposisieraadslede ʼn waarnemende speaker en burgemeester aangewys waarna die uitstaande begroting en die Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) ter tafel gelê en goedgekeur is.

Dit was noodsaaklik om die begroting voor of op 22 April ter tafel te lê wat die keerdatum is vir Bentley Vass, LUR van samewerkende regering, se dreigement dat hy die munisipaliteit onder administrasie sal plaas ingevolge Artikel 139 van die Grondwet omdat daar volgehoue wanbestuur is, en weens die raad se onvermoë om interne krisisse op te los.

Die jongste raadsvergadering  het gevolg op verlede Woensdag se raadsvergadering wat deur opposisiepartye met ʼn petisie geroep is, maar in wanorde verval het. Die ANC het geweier om met die vergadering voort te gaan, en ʼn groep mense op die galery het eiers na opposisieraadslede gegooi en pepersproei gespuit. Opposisieraadslede het toe onderneem om virtuele vergaderings vir hul eie veiligheid te hou.

LEES EN KYK OOK: Chaos met eiergooi en pepersproei in raadsvergadering ‘doelbewuste nuwe taktiek’

Adv. Joy Mongala wat namens die speaker die dringende interdikaansoek gebring het om die virtuele vergadering te stuit, het aangevoer Peters se regte as Speaker is misken. Die vergadering mag nie virtueel gehou word nie, want die publiek word uitgesluit.

‘Onherroeplike skade’ nie bewys

Die regter het bevind Peters kon nie bewys watter onherroeplike skade sy sou ly indien die vergadering gehou is nie. Peter had ook ander alternatiewe eerder as om “die ander partye hof toe te sleep”.

Dit is vir regter Tyuthuza duidelik Peters het nie die vergadering geroep nadat die meerderheid raadslede dit versoek het nie, wat hulle ingevolge Artikel 29(1A) van die Wysigingswet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels van 2021 magte gee om dit met ʼn petisie te doen.  

Mongala het toegegee dat die Speaker al op 16 April bewus was van die versoek van ʼn virtuele raadsvergadering wat vir 17 April geroep is.

Hy ontken dat die Speaker nie die vergadering op versoek van die raadslede voor die keerdatum van 22 April wou roep nie.

Sonder die interdik word die integriteit van die Raad en die Speaker se vermoë om wettige beheer uit te oefen, vernietig, het hy aangevoer. Dit sal munisipaliteit in ‘n toestand van voortdurende onwettigheid en regrisiko’s dompel, veral omdat Peters nie Matlala as stadsbestuurder erken nie weens die aanklagtes teen hom en hangende die tugproses.

LEES OOK: Kimberley: Speaker moet dalk nóg regskoste betaal na mislukte interdik-aansoek

Die regter het etlike kere opgemerk dis onaanvaarbaar dat die belastingbetaler die regskoste moet betaal veral omdat die speaker “op haar eie optree” sonder raadsgoedkeuring. Daar is ander maniere om die situasie te hanteer sonder om al die partye hof toe te sleep. 

Vir die regter is dit duidelik dat die Speaker nie die vergadering wou roep nie, want sy het nie op die versoek om dit te doen, reageer nie.  

Indien die Speaker se beswaar ʼn virtuele vergadering was, kon sy dit verander het dat dit in die raadsaal plaasvind, maar sy het nie.

Mongala het ondanks pogings om die regter te oortuig dat die interdikaansoek betyds op al die raadslede beteken is, nie daarin geslaag nie.

Regter Tyuthuza het nie sy voorlegging aanvaar dat hy haar as ʼn regsdienaar verseker die kennisgewing is op die betrokkenes beteken nie.

Sy sogenaamde bewyse aan die regter is eintlik ʼn sakelys van die vergadering, en nie as betekening van die hofaansoek aanvaar nie.

Hy had ook geen aangehegte verklaring van ʼn prokureur wat beaam dat kennisgewings van die interdikaansoek op al die partye beteken is nie.

Mongala kon net toon dat die munisipale bestuurder in kennis gestel is.

Vir regter Tyuthuza is dit onaanvaarbaar dat munisipale strukture en ampte onder mekaar baklei.

Speaker reageer glo nie op versoeke vir vergadering nie

Advokaat Johan Harmse het namens Matlala en die munisipaliteit  opgetree. Hulle het die hofaansoek eers Vrydag om 12:52 ontvang, en het dadelik begin om betoë voor te berei. Die tyd was so kort dat hulle nie geskrewe stukke aan die hof kon voorlê nie.

Volgens Harmse het die speaker nie reageer op versoeke vir ʼn vergadering nie, daarom kan aanvaar word sy wou nie. Daar is geen bewyse ingedien dat ʼn virtuele vergadering die publiek noodwendig uitsluit nie.

Boonop kan die Speaker nie bewys dat sy onomkeerbare skade sal ly ingevolge die vereistes van ʼn interdikaansoek nie. Volgens Harmse praat Peters in haar funderende verklaring van haarself, nie haar amp nie.

Sy sal glo skade aangedoen word as mense weet sy het geweier om die vergadering te reël.

Die hof het bevind Peters was obstruktief in haar optrede om nie die verlangde raadsvergadering te reël nie.

Die aansoek is afgewys omdat Peters nie haar saak bewys het nie. Peters moet in ʼn beëdigde verklaring redes verskaf hoekom sy nie die regskostes in haar persoonlike hoedanigheid moet betaal nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article