Die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley se nuwe inisiatief om township-ondernemings te formaliseer en munisipale stalletjies vir plaaslike entrepreneurs uit te hou, is met versigtige optimisme deur die sakegemeenskap verwelkom.
Terwyl die munisipaliteit op plaaslike eienaarskap fokus, sê die Noord-Kaapse Sakekamer (Nocci) streng wetstoepassing en samewerking sal deurslaggewend vir sukses wees.
Die munisipaliteit het onlangs aangekondig alle munisipale handelstalletjies word voortaan vir ondernemings uitgehou wat 100% in plaaslike besit is.
Dié stap is volgens Thapelo Matlala, stadsbestuurder, deel van ’n groter program om die informele sektor te formaliseer, wat entrepreneurs toegang tot regeringsondersteuning en finansiering gee.
Volgens die kantoor van die uitvoerende burgemeester is die stap noodsaaklik om te verseker dat ekonomiese geleenthede direk tot plaaslike welvaartskepping, ondernemingsontwikkeling en werkskepping bydra.
Daarbenewens word ’n volledige hersiening van tariewe vir spaza-winkels en stalletjies beplan om dit meer bekostigbaar te maak.
As deel van die ondersteuningspakket sal die munisipaliteit ’n volledige hersiening van tariewe vir handelstalletjies en spaza-winkels onderneem. Die doel is om ’n tariefstruktuur te skep wat billik en bekostigbaar is vir opkomende entrepreneurs, terwyl die munisipaliteit steeds help om ‘n veilige en volhoubare handelsomgewings te onderhou.
Sakekamer eis optrede, nie net planne nie
Sharon Steyn, uitvoerende hoof van Nocci, sê die stappe wat in die munisipale dokument uiteengesit word, moes lankal geïmplementeer wees.
Volgens Steyn is die grootste struikelblok tans die gebrek aan wetstoepassing.
“Sodra die munisipaliteit sy huis in orde kry, beginnende by die verordeninge (“bylaws”), sal dit ’n enorme verskil maak,” sê sy.
Steyn wys op die onregverdige mededinging waar sommige plaaslike kleinbesighede (SMME’s) maandeliks vir uitgesitte handelsareas betaal, terwyl ander handelaars, wat nie net buitelanders is nie, op enige plek op die sypaadjies staan sonder om te betaal.
“Die ongereguleerde handel op die sypaadjies versper toegang na die winkels. Dit is onveilig vir voetgangers en benadeel formele sakeondernemings, wat belasting en tariewe betaal.”
Nocci stel voor die munisipaliteit skep SMME-markte, soortgelyk aan ’n klein markdorp, met geriewe soos badkamers wat skoon en veilig is.
Steyn stel ook voor handelaars betaal ’n billike fooi van sowat R100 tot R150 per maand. Sy dring daarop aan dat die geld in ’n aparte rekening geplaas moet word wat spesifiek gebruik word om dié areas skoon en aantreklik vir kliënte te hou.
‘Geen verdraagsaamheid tot korrupsie’
Die munisipaliteit sê in sy verklaring hulle volg ’n benadering van geen verdraagsaamheid tot korrupsie en het amptenare gewaarsku teen die aanvaarding van omkoopgeld vir permitte.
Tog is Steyn krities oor die huidige vlak van kommunikasie. Sy voer aan dat die munispale eenheid vir Plaaslike Ekonomiese Ontwikkeling (LED) nie genoegsaam met die Sakekamer en inwoners praat nie.
“Besighede wil nie die munisipaliteit oorneem nie, maar ons kan hande vat en saamwerk,” sê Steyn. “Die munisipaliteit praat nooit met ons nie, al vra ons aanmekaar dat vergaderings moet plaasvind.”
Sy het ’n beroep op die munisipale bestuurder gedoen om minstens elke twee maande vergaderings met alle belanghebbendes, insluitend groot sakeondernemings en informele handelaars, te hou om probleme prakties op te los.
Die munisipaliteit het ook gewaarsku dat die onderverhuring van stalletjies tot onmiddellike uitsetting sal lei.
Steyn ondersteun dié strenger benadering.
“Gereelde gesondheids- en brandveiligheidsinspeksies moet by ook alle besighede, nie net SMME’s gedoen word. Dis noodsaaklik om die stad weer professioneel en skitterskoon te maak.”





