I love my garden, and I love working in it. To potter with green growing things, watching each day to see the dear, new sprouts come up, is like taking a hand in creation, I think. Just now my garden is like faith – the substance of things hoped for.” – Lucy Maud Montgomery, Anne’s House of Dreams, 10 Books
Nou die dag daal ‘n kompliment neer oor die tuin wat al meer as tien jaar ons s’n is. Natuurlik met die hulp van ‘n kranige en behendige tuinier wat ook erg verknog aan plante is.
Dit is interessant dat wanneer jy die huis en tuin koop, jy dink dis mooi. Maar soos jy jou inleef, so sien jy ander moontlike. Iets wat moet waai, soos uitheemse bome waaronder niks groei nie, ‘n heining wat ongelukkig gebou moet word om skobbejakke weg te hou.
Jy is dankbaar vir die geankerde vrugtebome wat jy geërf het, en plant nog aan. Interessantes soos pekanneute en macadamianeute, hoewel ek hard moet bid vir sy oorlewing in die Noord-Kaap se ongenaakbare droë somers.
Gelukkig het ons al drie jaar gelede nog bome in die agtertuin geplant, vir skaduwee, koelte en rusplekke.
Ander plante het ook gedy en het ander plekke in die skilderdoek gevind. Die nartjie-, suurlemoen- en lemoenboom se vrugte gee sap en likeur, die neutbome maak beskuit ryk en lekker.
Ek verklap niks oor my mees gesogte boom nie, dit sal onwelkome aandag lok.
Verlede jaar is blommetjies geplant wat intussen gedy en voortgeplant het. Die kleurryke tuinskildery beur mismoedigheid op. Die medisinale slangkop se blare help vir enige veluitslag. Potte is op die regte plekke staangemaak, soos beblomde rotsvygies wat soos water daaruit stroom.
Voëls maak neste, sing soggens voluit vir die nuwe daeraad, en vermaak met hul lentedanse.
LEES OOK: KAMEELDORING | Lank leef ware vriendskap in era van digitale maters





