‘n Stille stryd teen inkopietrollies wat onregmatig vanaf winkelsentrums en handelaars se persele verwyder word, duur daagliks voort. Die onregmatige verwydering van hierdie inkopietrollies word as diefstal beskou en die trollies as gesteelde eiendom. Ook lei dit tot aansienlike finansiële verliese vir besighede, en weens die voortdurende herstel of vervanging van inkopietrollies, word produkpryse vir verbruikers verhoog.
Die tekort of afwesigheid van beskikbare trollies beïnvloed voorts die diens wat die besigheid graag aan kliënte wil lewer.

In Kathu het die stryd teen inkopietrollies wat onregmatig op straat en selfs in die veld gebruik word, verskerp. ‘n Groot hoeveelheid inkopietrollies word ook in Upington teruggeneem.
Die Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) van Kathu het inwoners in September ingelig dat verskeie besighede die GPF amptelik gemagtig het om hul inkopietrollies wat van hul persele verwyder is, terug te kry en terug te besorg.
Game, Pick n Pay, Spar, Boxer, Plastic Packaging en Food Lovers Market het hulle onder meer hierby geskaar, terwyl Shoprite Checkers van sy eie kontrakteurs gebruik maak om verwyderde inkopietrollies terug te vind en terug na die regmatige eienaars te bring.
Gesteelde inkopietrollies lei gereeld tot verdere misdaad
“Inkopietrollies is nie openbare eiendom nie,” beklemtoon Dean Espach, ‘n sektorlid van GPF-Kathu. Hy vertel dat ‘n WhatsApp-groep vir die opsporing van inkopietrollies in Kathu gestig is en dat trollies wat verlate of op ongeleë liggings gesien word, hierop aangemeld word.
Misdaad met trollies is uiteenlopend. In die GPF se werksaamhede in die gemeenskap is bevind dat die onregmatige gebruik van winkeltrollies in vele gevalle tot misdaad bydra deurdat dit gebruik word om gesteelde goedere te vervoer, en om dié goedere in die trollies onder ander items te versteek.
Besige tye van die maand wanneer die meeste mense salaris of toelae kry, is inkopietrollies skaars. ‘n Neiging vind dan glo plaas dat persone inkopietrollies bymekaar maak en dit aan desperate inkopiegangers “verkoop”.
Trollies van plastiek is net so gewild soos die van metaal. Plastiektrollies brand glo beter as enige hout en word selfs vir dié doel aangewend. Die dampe wat so ‘n brandende plastiektrollie afgee kan tot asemhalingsprobleme lei, en veroorsaak erge lugbesoedeling.

Die wiele van die trollies is ook gesog en dit word selfs in die winkel afgesteel. Dit word aan selfgemaakte trollies monteer, maar omdat dié wiele nie vir buiteterrein ontwerp is nie, hou dit nie lank nie.
Wanneer die trollies hul alternatiewe doel gedien het, of gebreek het weens onvanpaste gebruik, word dit enige plek gelaat wat tot omgewingsbesoedeling bydra. Dié trollies word selfs in rioolgate gegooi wat tot erge rioolverstoppings lei.
Volgens ‘n ingeligte persoon is skroothandelaars verbied om metaaltrollies, of enige dele van trollies te koop. Hoe goed dié wetgewing nagekom of polisieer word, word egter bevraagteken.
LEES OOK: Municipality appeals: ‘Do not throw shopping trolleys in manholes’
Handelaars lei miljoene rande se skade
Optrede deur die GPF, soms in samewerking met die polisie en ander rolspelers, teen die onregmatige verwydering van winkeltrollies is daarop gemik om wet en orde te handhaaf, besighede te beskerm en die veiligheid van inwoners te verseker.
Die verwydering en diefstal van inkopietrollies veroorsaak dat handelaars oor die land heen jaarliks miljoene rande verloor. Volgens inligting kan ‘n trollie ongeveer R2 500 tot R6 000 kos, afhangend van sy grootte en materiaal.
Volgens ‘n plasing van Fidelity ADT se een tak in Springfield in Gauteng, is ‘n manspersoon op 30 Julie vanjaar in hegtenis geneem weens die voortdurende diefstal van inkopietrollies. Volgens dié plasing het die verdagte erken dat hy herhaaldelik trollies by ‘n handelaarsperseel steel en dit vir R50 elk verkoop. Ten tye van sy inhegtenisneming is twee trollies met ‘n geskatte gesamentlike waarde van R12 000 in sy besit gevind
Die verdagte het erken dat hy die vorige dag ook twee trollies gesteel het. Ondersoeke dui daarop dat meer as 20 sulke trollies, met ‘n geskatte waarde van meer as R120 000, reeds voorheen van dié spesifieke kleinhandelaar gesteel is.

‘n Kontrakteur vir Shoprite Checkers wie met die opsporing van sulke inkopietrollies in verskeie provinsies, insluitend die Noord-Kaap betrokke is, sê die onregmatige verwydering van trollies verskil van tyd tot tyd in spesifieke gebiede, en die einde van ‘n maand tot die einde van die eerste week van ‘n nuwe maand is die besigste tye om sulke trollies in te win.
Trollies met inkopies word gereeld tot by taxi- of bushaltes gestoot en daar gelos, waar dit dan vinnig voete kry indien die trollie-assistente dit nie gou genoeg kan opspoor nie.
Die GPF doen ‘n ernstige beroep op die publiek om nie enige winkeltrollies van enige winkelsentrum of handelaar se perseel te verwyder nie. Moet ook nie ‘n inkopietrollie by ‘n ander persoon koop of aanvaar nie.
Indien jy ‘n trollie buite ‘n perseel sien, meld die ligging daarvan by die GPF of ‘n plaaslike sekuriteitsmaatskappy aan.






You must be logged in to post a comment.