UPINGTON – Die vermeende moordenaar van die negejarige Heinrich Human van Louisvale-dorp buite Upington was ten tyde van die voorval waarin die seun dood is op parool. Die 26-jarige Willem Koper, wat Sondag in hegtenis geneem is nadat die slapende Heinrich met sowat agt steke met ‘n skerp voorwerp gedood is, is in 2021 tot tronkstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan onder meer moord, statutêre verkragting en aanranding met die doel om ernstig te beseer.
Koper is op 20 Augustus 2025 op parool vrygelaat, met sy parooltydperk wat op 1 Julie 2029 sou verstryk. Na bewering het die persoon aan wie se moord Koper in 2021 skuldig bevind is, in die informele woonstruktuur aangrensend van waar Heinrich vermoor is, gewoon.

Heinrich, ‘n gr. 2-leerder aan die Intermediêre Skool Frank Biggs in Louisvale en sy ouers se enigste kind, is in die vroeë oggendure van Sondag 18 Oktober in sy bed doodgesteek terwyl hy geslaap het.
Naomi Slinger, aktivis vir geslagsgeweld, asook bestuurder en koördineerder by Philisa Abafazi Bethu in die Noord-Kaap, het vroeër vertel dat ‘n kollega haar Sondag omstreeks 08:00 na die huis waar die moord plaasgevind het, ontbied het. Volgens haar het Heinrich en sy pa se stiefma geslaap toe sy aanvaller hul informele woonstruktuur se deur met geweld afgetrap het. Heinrich het by sy stiefouma gewoon omdat sy ouers op ‘n plaas in die Kuruman-omgewing werk en woon.
Die aanvaller het glo na die vertrek gestap waar Heinrich en sy stiefouma geslaap het en die kind sowat agt keer met ‘n skerp voorwerp gesteek. Slinger het gesê ongeag daarvan dat die stiefouma, wat verlam is, om hulp geskree het, het die aanvaller Heinrich aanhoudend met die skerp voorwerp gesteek. Die aanvaller het weggehardloop, en die voorval is om 03:05 by die polisie aangemeld. Met die polisie se aankoms op die toneel het Heinrich in ‘n plas bloed op sy bed gelê. Hy is op die toneel dood verklaar.
Koper is later die oggend in Raaswater in hegtenis geneem.

Verdagte was in verhouding met familielid van oorledene
In ‘n Facebook-plasing sê Slinger die vermeende moordenaar het die gemeenskap geterroriseer sedert hy op parool vrygelaat is. Hy het glo ‘n mes by hom gedra en inwoners daarmee gedreig. Slinger wil graag weet hoeveel keer die verdagte sedert sy vrylating op parool deur owerhede besoek is, en of hy sy paroolvoorwaardes nagekom het.
Volgens Slinger en ook volgens ‘n verklaring van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) was Koper in ‘n verhouding met ‘n familielid van Heinrich, en het Koper glo voorheen gewelddadig teenoor haar opgetree. Op die aand voor die voorval het Koper en die familielid na bewering ‘n rusie gehad, en die vrou het glo gevlug om verdere konfrontasie te vermy. Sy het daardie nag nie na die huis waar sy saam met Heinrich en sy stiefouma gewoon het, teruggekeer nie.
Tydens Koper se hofverskyning op Woensdag 21 Oktober in die Upington-distrikshof, het die staat beweer dat Koper daarna na die huis teruggekeer en die kind doodgesteek het – die kind het geslaap in die kamer waar die vrou gewoonlik sou slaap. Die omstandighede rondom die voorval sal deur getuienis in die hof uitgeklaar word, sê Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder van die NVG in die Noord-Kaap.
Senokoatsane sê die staat kan bevestig dat Koper voorheen, op 2 Julie 2021, aan moord skuldig bevind is. Koper is ook op 7 Julie 2021, in ‘n afsonderlike saak, skuldig bevind aan statutêre verkragting en aanranding met die opset om ernstig te beseer. Hy is tot agt jaar tronkstraf vir die moord gevonnis, en vyf jaar vir die aanranding. Koper is op 20 Augustus 2025 op parool vrygelaat.
Koper se broer gevonnis vir moord
Intussen is bevestig dat ‘n ouer broer van die verdagte, Arrie Koper, op 21 Januarie 2021 tot 15 jaar tronkstraf in die Noord-Kaapse Hooggeregshof vir die moord op sy vrou Aneline Koper, gevonnis is.
Arrie, wat ten tye van die vonnis 37 jaar oud was, is vir Aneline se moord in hegtenis geneem nadat haar lewelose liggaam op die oggend van Sondag 4 Augustus 2019 by haar huis in Louisvale-dorp gevind is.
Volgens ‘n polisieverklaring van 22 Januarie 2021 het die lyk van die 32-jarige ma van sewe kinders ernstige kopbeserings getoon. Sy is met ‘n skerp voorwerp deur haar man gedood wat daarna van die toneel gevlug het. Die polisie het Arrie later daardie dag in hegtenis geneem. Hy is aangehou en het vir die duur van die verhoor in aanhouding gebly.
Die oorledene se kinders, wat destyds tussen 15 jaar en sewe maande oud was, is onder die sorg van die departement van maatskaplike ontwikkeling geplaas, aldus die polisieverklaring.

Borgtog sal ‘sterk teengestaan word’
Die saak, waarin Koper van moord op Heinrich aangekla word, is tot 29 Oktober vir borgtogaansoek uitgestel. Staatsaanklaer Elouise du Plessis het aangedui dat borgtog sterk teengestaan sal word. Die Staat se teenkanting is gegrond op kommer oor openbare veiligheid – veral die beskerming van kwesbare lede van die samelewing – asook die erns van die beweerde misdryf en die beskuldigde se vorige veroordelings.
Senior Staatsaanklaer Christopher Bouman het skok en ontsteltenis oor die voorval uitgespreek en die NVG se verbintenis om geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord, sowel as alle vorme van geweld, mishandeling en verwaarlosing teen kinders, te bekamp.
Die NVG besef hoe ernstig misdade teen kinders is en bly daartoe verbind om te verseker dat diegene wat daarvoor verantwoordelik is, deur die regstelsel tot verantwoording geroep word.
Koper bly in aanhouding tot sy volgende hofverskyning volgende Donderdag. Die polisie-ondersoek duur voort.
Petisie opgestel
Intussen word ‘n petisie deur die gemeenskap onderteken om Koper se borgtog teen te staan. Die aanlyn petisie is vir diegene wat nie die petisie, wat in Upington en omstreke versprei word, kan onderteken nie. Slinger sê dit is onaanvaarbaar dat iemand soos Koper ooit weer borgtog moet kry. Sy sê vrae word steeds gevra oor hoe hy as gevonnisde moordenaar op parool vrygelaat is net om enkele maande daarna weer moord pleeg.
Slinger sê ook dat Heinrich se ouers geldelike ondersteuning vir sy begrafnis nodig het. Sy noem dat diegene wat wil help, dit uit die hart uit moet doen en nie vir eie en politieke gewin nie. Volgens haar moet daar nooit uit die oog verloor word dat ouers ‘n kind verloor het en dat die gemeenskap seergekry het nie. Kontak vir Slingers by 063 308 2596.







You must be logged in to post a comment.