UPINGTON: Die Upington-gemeenskap is in rou gedompel nadat ‘n negejarige seun in sy bed doodgesteek is terwyl hy nog besig was om te slaap.
Nova News verneem op goeie gesag dat die oorledene, Heinrich Human van Raaswater in Upington, se moordenaar uit was op parool nadat hy vroeër iemand wat in die informele woning aangrensend waar Heinrich woon, vermoor het.
Heinrich was ten tyde van sy gru-dood ’n graad 2-leerder verbonde aan die Frank Biggs Primêre Skool in Raaswater. Hy was sy ouers se enigste kind.
Naomi Slinger, ‘n aktivis vir geslagsgebaseerde geweld en bestuurder asook koordineerder by Philisa Abafazi Bethu in die Noord-Kaap, vertel dat ‘n kollega haar Sondagoggend (18 Oktober) omstreeks agt-uur na die moordhuis ontbied het.
Volgens Slinger was Heinrich en sy pa se stiefma nog besig om te slaap toe sy aanvaller hul informele woonstruktuur se deur met geweld afgetrap het.
Heinrich het by sy pa se stiefma gewoon omdat sy ouers op ‘n plaas in die Kuruman-omgewing werk en woon.
Volgens Slinger het die man gestap na die vertrek waar Heinrich en die stiefma nog besig was om te slaap en die kind sowat agt keer met ‘n skerp voorwerp gesteek.
Slinger sê ten spyte van die feit dat die angsbevange stiefma wat boonop verlam is, om hulp geskree het, het die seun se aanvaller hom aanhoudend met die skerp voorwerp gesteek. Slinger sê die vermoede bestaan dat Heinrich na die eerste steekhou reeds dood was omdat hy hom nie teëgesit het nie.
Volgens haar het Heinrich se aanvaller na die voorval weggehardloop, maar is later die oggend in Raaswater in hegtenis geneem.
Sy sê mediese personeel het Heinrich op die toneel dood verklaar.
Volgens Slinger was Heinrich se aanvaller en sy (Heinrich) niggie betrokke in ’n romantiese verhouding. Sy sê die paartjie het glo die vorige dag stry gehad het.
Slinger sê die niggie het weggehardloop toe hy haar wou leed aandoen. Volgens Slinger het die niggie in dieselfde woning as Heinrich en die stiefma gewoon.
Slinger sê Heinrich se ouers is verpletter deur sy dood.
Heinrich se vermeende moordenaar verskyn na verwagting op 21 Oktober in die Upington-landdroshof.
Nova News het na die polisie in die Noord-Kaap uitgereik. Hul kommentaar sal bygewerk word sodra dit ontvang word.
LEES OOK: Man vermoor glo vriendin, bring homself om die lewe





