WORCESTER – ‘n Dubbele tragedie het die Roodewal-gemeenskap in Worcester op Woensdag (15 April) getref toe ‘n man sy vriendin met ‘n skerp voorwerp doodgesteek en homself later opgehang het.
Die vermoorde Rodene Flando (34) se ouma, Lea Adams, vertel aan Standard Breederivier Gazette dat haar (Flando se) vriend omstreeks 06:00 by hul woning in Roodewal-woonstelle opgedaag en na haar (Flando) gesoek het. Hy het toe onmiddellik afgesit na Flando se wendyhuis wat agter die woonstel opgerig is.
Volgens Adams het hulle Flando hoor gil. Sy sê hulle het onmiddellik haar (Flando se) tienjarige dogter, Akeelah, in die slaapkamer van die woonstel weggesteek. Volgens Adams het ‘n bebloede Flando kort hierna by die woonstel ingestrompel en in ‘n stoel in die sitkamer neergeval. Sy was in die nek en maag gesteek.
Adams sê Flando was so swak dat sy vanaf die stoel tot op die vloer geseil het. Volgens haar het haar kleindogter gekla van die pyn en gesê sy kan nie meer nie. Adams sê haar kleindogter is kort hierna oorlede.
Adams sê Flando se aanvaller het homself ná die voorval in die wendyhuis toegesluit. Volgens haar het die polisie die wendyhuis se deur oopgedwing en hom aangetref waar hy homself na bewering opgehang het.
Benewens Akeelah het Flando ook nog ‘n tweejarige kind.
Standard Breederivier Gazette wag nog op terugvoer vanaf die polisie oor die voorval.
- In September verlede jaar het ‘n tragedie homself in De Doorns afgespeel nadat ‘n geliefde Boland-rugbyskeidsregter, Jannie Wildskut en sy vriendin kort voor middernag dood is in ‘n vermoedelike liefdestwis.
.





