Verkragter van Prince Alfred Hamlet tronk toe gestuur


’n Man van Prince Alfred Hamlet is Woensdag (15 April) lewenslank tronk toe gestuur op ‘n aanklag van verkragting.

Die veroordeelde verkragter, Gerald Joseph (31), is voorts 30 jaar tronkstraf opgelê op drie klagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer en nog vyf jaar op ’n aanklag van ontvoering.

Die vonnisse word samelopend uitgedien.

Joseph en die klaagster was bekend aan mekaar.

Die twee voorvalle het op die plaas Sterkwater by Prince Alfred Hamlet plaasgevind.

Die eerste voorval het op 23 April 2023 plaasgevind toe die klaagster saam met vriende gekuier het.

Joseph het by die betrokke vertrek ingestap en die klaagster in die arm en rug gesteek. Sy het drie steekwonde in dié voorval opgedoen.

Die polisie is in kennis gestel waarna die klaagster na ’n hospitaal geneem is.

Geen saak is by die polisie aanhangig gemaak nie en Joseph is nie in hegtenis geneem nie.

Met betrekking tot die tweede voorval het Joseph die klaagster op 25 Junie 2023 by ’n vriendin se huis gaan haal en haar huis toe vergesel.

Hulle het gestry waarna hy haar met die vuis in die gesig geslaan het.

Toe hulle tuiskom het hy haar met ’n baksteen oor die kop geslaan.

Hy het hierna ’n stoel gegryp en die klaagster daarmee oor die rug geslaan. Joseph het haar hierna tot by sy huis gedwing.

Die klaagster se tante, wat die voorval sien gebeur het, het die polisie ontbied en die geregsdienaars tot by Joseph se huis vergesel.

Toe die tante en polisie by Joseph se huis opdaag, het hulle die klaagster half-kaal aangetref.

Joseph het haar in daardie stadium toe reeds verkrag. Die polisie het Joseph in aanhouding geplaas vir oproerige gedrag.

Hy is die volgende dag vrygelaat.

’n Dag later het die klaagster na die polisiekantoor afgesit en ’n rits sake teen Joseph aanhangig gemaak.

Joseph is kort hierna in hegtenis geneem op klagte van verkragting, aanranding met die opset om ernstig te beseer en ontvoering.

Hy het skuld op al die aanklagte ontken.

Die saak het voor streeklanddros Clifton Maseti gedien.

Chantal de Vos het aangekla.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article