“Ek het aan sy wang gevat en gesê ‘mamma gaan jou baie mis. Bye boeta’”.
Met hierdie woorde het ‘n hartseer Joyce Fokwana (44) haar 15-jarige Downsindroom-seun gegroet, minute nadat hy reg voor sy ouerhuis in Goudiniweg in die Rawsonville-distrik doodgery is.
Die oorledene, Jermaine Fokwana (15) van die plaas JW Pieterse, was ten tyde van sy dood ‘n leerder by die Eden Opleidingsentrum in Worcester.
Volgens Joyce was sy Donderdag (16 April) – die dag van die ongeluk – nog by die werk toe ‘n senior kollega haar omstreeks 16:00 nader en sê om saam met hom in sy voertuig te klim. Sy sê toe hulle by haar huis stilhou, toe breek hy die nuus aan haar dat Jermaine ‘n rukkie gelede deur ‘n voertuig doodgery is.
Die ongeluk het gebeur kort nadat die skoolbus hom langs die pad in Goudiniweg afgelaai het. Joyce sê haar seun het agter om die bus gestap toe die motor wat uit die rigting van Goudini Spa aangery gekom, hom getref het.
Volgens Joyce het sy uitgeklim en na die ongelukstoneel gestap. Jermaine se lyk, wat in die middel van die pad gelê het, was reeds bedek. Sy sê sy was histeries en het onophoudelik gehuil. Haar lewensmaat en haar kinders se pa, Maans Dampies (48), het haar deurentyd op die ongelukstoneel ondersteun.

Volgens haar was haar oudste seun, Mark-Lee (22), net so histeries en het op die padoppervlak agter die bus gesit en huil.
“Ek wou my kind se gesig sien, maar hulle het gesê ek kan nie, want sy gesig het lelik seergekry. Toe my kind weggevat word, toe vra ek weer of ek hom kan sien. Hulle het my toe sy gesig gewys. Ek het aan sy wang gevat en gesê ‘mamma gaan jou baie mis. Bye boeta’.”
“Hoekom het iemand hom nie net aan sy hand gevat en oor die pad gehelp nie?”
Maans sê: “Hy (Jermaine) was die lig in ons huis. Hy was altyd so gelukkig.”
Jermaine word ook oorleef deur ‘n suster, Jenevieve (11).
Die familie is besig met die begrafnisreëlings.






You must be logged in to post a comment.