‘n Ma van Ashton is woedend nadat ‘n man wat teregstaan op ‘n aanklag van verkragting na bewering haar vyfjarige dogter seksueel aangerand het terwyl hy uit was op borgtog.
Kapt. FC van Wyk, ‘n polisiewoordvoerder, bevestig die beskuldigde was uit op borgtog toe die voorval van seksuele aanranding plaasgevind het.
Volgens Van Wyk is die saak in ‘n stadium van die hofrol geskrap omdat DNS- en geestesgesondheidsverslae nie in die dossier was nie. Gevolglik is die beskuldigde toe vrygelaat.
Hy sê die beskuldigde is egter op borgtog vrygelaat toe die saak weer op die hofrol geplaas is. Volgens hom is die saak tans op die streekhofrol.
Die beskuldigde is Vrydag (17 April) op die aanklag van seksuele aanranding in hegtenis geneem. Hy het Maandag (20 April) in die landdroshof verskyn.
Die saak is tot 12 Mei uitgestel vir verdere ondersoek. Die man word aangehou.
Die ma sê aan Standard Breederivier Gazette haar kind het op 15 Maart aan familie onthul dat “iemand aan haar vat”.
Volgens die ma is dié persoon in ‘n romantiese verhouding met ‘n familielid van haar sedert verlede jaar Oktober. Sy sê sy ken die man van geen kant af nie.
Volgens haar het die beweerde voorval plaasgevind toe haar dogter by die familielid in Robertson gaan kuier het.
“Ons weet van twee voorvalle, maar dit kan meer wees. Sedert Oktober [verlede jaar] het my dogter haar begin natmaak. Ons het toe maar gedink dis omdat sy by ‘n nuwe skool is, deur ‘n nuwe fase gaan en dat dit sal oorwaai.”
Volgens die ma het die voorval ‘n groot impak op haar dogter gehad, want volgende maand (Mei) begin haar kind met sielkundige behandeling.
Sy sê haar kind moet ook ‘n arbeids- en spraakterapeut besoek.
“Ná die voorvalle is my kind baie stil. Sy meng nie met ander kinders nie. Sy speel op haar eie of met een maatjie, maar nie in ‘n groep nie, wat eintlik hartseer is, want dis ‘n skool met ‘n klomp kinders.
“Sy was nooit so stil nie. ‘n Mens moes haar destyds altyd stilgemaak het, want sy is ‘n baie dramatiese kind. Ons is net bly dit het uitgekom.”




