George Peters, oftewel Barney, vermeende berugte leier van die Hollander-bende in Kimberley en Kuruman, het Woensdag 11 Maart vir adv. Vasiliki Patrinos, sy regsverteenwoordiger van Regshulp Suid-Afrika in die pad gesteek.
Hiermee is sy wens vervul om homself te verdedig sodat hy “vrae aan die getuies kan stel soos hy wil”.
Só het hy aan regter Almé Stanton gesê in die verhoor wat al etlike kere vertraag is weens Peters se nukke.
Peters en sy 15 medebeskuldigdes word gesamentlik of afsonderlik verdink dat hulle by etlike bendeverwante voorvalle vanaf Augustus 2020 tot Februarie 2023 in Kimberley en Kuruman betrokke was. Hulle het glo geld uit dwelmhandel gemaak en die vroue is glo as dwelmmuile gebruik. Die 117 aanklagte sluit onder meer moord, poging tot moord, bedrog, ontvoering, verkragting en geldwassery in.
Voorheen verwyder weens ‘dwarstrekkerige gedrag’
Hy is voorheen uit die verhoor verwyder weens sy dwarstrekkerige gedrag en dreigement dat die verhoor nie sal voortgaan voordat hy nie sommige van sy meer as 30 kinders gesien het nie. Soos vroeër in die deelsverhoor wat vir drie weke geskeduleer is, is nog ʼn brief met sy besware waarin hy sy onskuld voorhou aan die hof voorgelees. Hy weier om na “leuens wat die getuies vertel, te luister” en is nie “lus vir hofprosedures nie”.

Patrinos het aangevoer dat Peters al lank in aanhouding is, gemoedskommelings ervaar en impulsief is. Hy is glo bekommerd oor sy kinders wat deur ’n vorige vrou “verkoop” word, en sy kinders gaan glo nie skool nie. Peters verlang ʼn regverdige verhoor. Hy en sy respekteer mekaar, al wil hy haar afdank, omdat sy nie vrae stel soos hy dit wil hê nie. Peters is glo ernstig siek en ervaar “pyn en lyding” waar hy in die beskuldigdebank sit
LEES OOK: Bendeleier ‘Barney’ sê hy is ‘n ‘rolmodel, onskuldig’ en ‘het geen tatoeërmerke’
Demeon Hannie is die staatgetuie wat in die getuiebank is en kruisondervra word. Hy het volgens Peters se beswaarskrif getuig hoe hy hom (Peters) wou doodskiet.
Vertragings in hof benadeel ander
Die staat en die ander beskuldigdes se regsverteenwoordigers het in hul betoë aangevoer die vertragings benadeel hul kliënte van wie sommige al vir jare in aanhouding is. Hulle het ook ʼn reg dat geregtigheid spoedig geskied. Hulle het almal aangevoer dat Peters se wens vervul moet word.
Sy mede-aangeklaagdes is Britney Arends, Stephanie Mcanda, Simone Rose, Chinaaz Mentoor, Abagail van Wyk, Chane Adams, Micheal Peters, Clive Peters, Deon May, Parmeston Mentoor, Henry Blom, Vincent Rosen, Tshepo Malambi, Nico Hofuza en Shawn Smith. Van hulle is Peters se broers, eertydse en huidige houvroue en vermeende makkers.
Roelof van Van Wyk het namens sy kliënt aangevoer Peters minag die Suid-Afrikaanse regstelsel.
Adv. Jaques Rosenberg, aanklaer, het aangevoer die regter het reeds agteroor vir Peters gebuig. Peters se optrede veroorsaak ernstige vertragings in ʼn ingewikkelde saak. Patrinos is die tweede regsverteenwoordiger wat Peters afdank.
Die verhoor duur voort.




