’n Deel van die regstelsel in Kimberley het Dinsdag en Woensdag tot ’n stilstand gekom nadat ’n “walglike” rioolkrisis by die Kimberley-landdroshof ‘n bio-gevaar vir polisielede en aangehoudenes geskep het waarna een van die howe noodgedwonge na die hooggeregshof verskuif is.
NoordkaapBulletin het dié riool-probleme in Februarie onder die aandag van die nasionale departement van openbare werke gebring wat die hofgebou bestuur, wat toe ontken het daar is rioleringsprobleme by die landdroshofgebou. Die departement van arbeid het egter inspeksie gedoen en volgens bronne het ‘n vinnige skoonmaakaksie gevolg.



Dié krisis kom ná die Galeshewe-landdroshof al meer as twee jaar in onbruik geraak het omdat die departement van arbeid dit gesluit het weens strukturele gevare. Gevolglik sit Galeshewe-hofsake ook in die Kimberley-gebou se hofsale, en moet hofgangers uit Galeshewe na Kimberley vir hofsake reis.
Dis in teenstelling met die opening van die Galeshewe-hofgebou in 2011 toe Jeff Radebe, destydse minister van justisie, op ‘n yskoue winterdag gespog het dat mense uit Galeshewe nie meer na Kimberley hoef te reis vir hofverrigtinge nie. Die Galeshewe-hofgebou is opgerig om die druk op die Kimberley-landdroshof te verlig en om regsdienste nader aan die gemeenskap te bring.
Rioolwater oorstroom kantore met matte
Vandeesweek was daar volgens ingeligtes aanvanklik geen watertoevoer na toilette en wasbakke nie. Toe dit herstel is, het die onderste toilette wat die polisielede gebruik met riool begin oorstroom en ‘n vloed veroorsaak wat tot in hul kantore met matte gestroom het. Die houtdeure is ook met riool bevlek en het begin uitswel van die besoedelde water.
Die polisielede se toilette en kantore is afgesonderd van die aangrensende aanhoudingselle waarbinne daar staaltoilette is.
Ingeligtes is keelvol oor hoe hulle as geregsdienaars deur verskillende departemente behandel word.
“Die reuk is verby walglik, en ons voel al maande lank daagliks siek en naar van die gedurige rioolreuk en -vuil. Daar is nie eens meer ‘n toiletsitplek vir vroue nie, en ons moet smeek om toiletpapier te kry. Etlike lede het al infeksies opgedoen of siek afgebly van die werk weens die probleme. Ons word slegter as honde behandel,” sê dié lid.
Die lid voeg by dat toe die rioolvuil vroeër vandeesweek oral begin uitborrel het, het hulle geweier om die gevangenes vir hofverskynings te gaan haal, waarna die departement van justisie hulle beveel het om dit te doen.
Gevangene gly en val in rioolvuil
Dinsdag is die gevangenes ingebring, en was hulle verplig om in die enkeldiep rioolvuil te loop. In ‘n video kan gesien word hoe versigtig die gevangenes trap, maar een gly en val wel in die vuil water, waarna hy die res van die dag met sy besmette klere moes loop.
Daar is groot kommer oor die moontlike vernietiging van belangrike hofdokumente, dossiere en elektroniese infrastruktuur wat weens die besoedelding en waterskade beskadig of onklaar kan raak.
Geen aangehoudenes is Woensdag na die landdroshofgebou gebring nie, waar skoonmaakwerk plaasgevind het. Alle eerste verskynings van aangeklaagdes is na die hooggeregshof verskuif, terwyl ander aangehoudenes in gevangenissentrums virtueel verskyn het.
LEES OOK: Burden grows of closure of Galeshewe’s court building
Die riool-probleme volg nadat polisielede al in Februarie oor die onaanvaarbare toestande gekla het.
Media-navrae is toe onder meer aan James de Villiers, kommunikasiehoof van Dean Macpherson, minister van openbare werke en infrastruktuur, oor die probleme gestuur.
Sy antwoord toe was: “Daar is geen verstopte dreine by die aanhoudingselle nie, en die ablusiegeriewe is in werkende toestand. Die sanitasiestelsel is operasioneel. Daar is geen skadelike of onaangename reuk in die gebou of na die administratiewe gedeeltes van die hof versprei nie. Ons skoonmaakdienste-eenheid maak die gebou op ’n daaglikse basis skoon.”
Hoewel die departement van arbeid ondersoek ingestel en skoonmaakwerk gevolg het, is die oorsaak skynbaar nie opgelos nie.
De Villiers het onderneem om met amptenare te raadpleeg voordat hy verdere kommentaar lewer.
Kommer oor gesondheidsgevare amptelik uitgespreek
Brig. Mashay Gamieldien, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder, het in ’n amptelike verklaring hul kommer oor die gesondheids- en veiligheidstoestande by die hof bevestig.
“Die veiligheid, gesondheid en welstand van SAPD-lede, aangehoudenes en alle belanghebbendes binne die strafregstelsel bly ‘n prioriteit. Ons evalueer deurlopend operasionele omgewings om te verseker ons pligte word in ooreenstemming met toepaslike beroepsgesondheids- en veiligheidsvereistes uitgevoer.
“Die toestande kan die veilige uitvoering van pligte deur SAPD-lede, aangehoudenes en ander hofgebruikers beïnvloed. Verslae en evaluasies oor die operasionele impak is opgestel en aan die betrokke owerhede binne die strafregstelsel-groepering gestuur.”
Volgens haar skakel die polisie met alle belanghebbendes om te verseker dat polisiedienste gelewer word op ’n wyse wat die gesondheid en veiligheid van lede beskerm, terwyl die integriteit van die strafregtelike proses gehandhaaf word.
“Ons lewer nie kommentaar op interne arbeidsverwante skakeling of operasionele verslae nie, maar het lede se kwellings met gevestigde bestuursprosesse hanteer.”
In oorleg met betrokke belanghebbendes in die regsektor is gebeurlikheidsmaatreëls ingestel om te verseker persone wat in hegtenis geneem is word steeds binne die raamwerk van die reg geprosesseer.
“Alternatiewe reëlings is in plek om eerste hofverskynings en die prosessering van aangehoudenes te vergemaklik. Dit moet voldoen aan grondwetlike en wetgewende vereistes, terwyl die veiligheid en sekuriteit van aangehoudenes, polisielede, hofbeamptes en lede van die publiek gehandhaaf word.”
Die polisie skakel voortdurend binne die Geïntegreerde Regstelsel en die plaaslike Strafregstelsel-groepering om die impak van die infrastruktuuruitdagings op dienslewering en toegang tot geregtigheid te versag.
Die departement van openbare werke, asook justisie en arbeid, is tot Vrydag 5 Junie gegee om formeel op die probleme te reageer.





You must be logged in to post a comment.