Aanvanklik is daar kopskuddend, met ‘n humoristiese ondertoon, na Sussie as ” ‘n ander pampoen se pit” verwys.
Tot groot genot van Rooypa het dié uitdrukking uit haar mond verander na “my ma se pampoenpit”. Daarna word elke pampoenpit-frase wysneusagtig opgevolg met “maar ek is my ma se pampoenpit.”
Dié bekkigheid was nog net die begin.
Kort ná Jongste se agtste verjaardag, ses maande gelede, het sy nie net haar stem ontdek nie; ook haar selfvertroue en onstuitbare drang om te sê wat op haar hart is.
Sy sal enigeen korrigeer – volgens haar perspektief.
Toe Rooyma een aand met haar raas oor haar swaar hand met die tamatiesous, antwoord sy ewe: “Madam,” en gee haar ma ‘n oor-die-bril-kyk, al dra sy geen lense nie. Toe haar pa wonder of hy moet proes of lag, snoer sy hom met: “And you are a boy madam.” Volgens haar onderskeid is die eersgenoemde net “effe kwaai”.
In antwoord op ‘n vraag oor hoeveel lekkers sy al geëet het, terwyl sy nog een in haar mond sit, antwoord sy, so slim soos die houtjie van die galg: “This is my last one.”
Hoewel terugpraat nie goedgepraat kan word nie, laat die mini-madam se woorde dikwels haar ouma en ouers sonder woorde.
Mamma Teacher vra, na aanleiding van ‘n storie, waar die kat is. Vir eens is Sussie stil en wys met haar vinger na die prentjie van die vierpoot. “Daarso, sien,” kry sy die laaste sê in.
Een aand laat sy haar stem geld toe sy, bo die gekorswel voor die gesin se skottelgoedwas-tyd, drie koppelteken-byna-vloekwoorde uiter. Die grotes was stomgeslaan, en hoewel almal se gesig boekdele van die ingehoue lag spreek – elkeen het ‘n effe skuldige gewete – het Sussie weer die laaste sê gekry.
- Lees nog rubrieke en menigstukke hier.




