Hiermee die volgende aflewering in ‘n reeks wat ‘n Noord-Kapenaar oor die lewe saam met ‘n narsistiese ma geskryf het. Lees vorige aflewerings hier.

Dit is die eerste kwartaal in die hoërskool. Ons het na ‘n ander deel van die stad verhuis en ek is die enigste hoërskoolleerling wat in ons laerskool was.

Ek het gewig opgetel. Die verhuising was vir my ‘n geweldige aanpassing, so ook hoërskool. Ek mis my maats. Die meeste van hulle was die afgelope sewe jaar deel van my lewe.

Drie hoërskole kom neem eerskomende Saterdag op ons terrein aan ‘n atletiekbyeenkoms deel. Twee hiervan het die groot meerderheid van my laerskoolmaats in.

Ek is so opgewonde dat ek die aand voor die byeenkoms byna nie kan slaap nie. Ek neem self aan die atletiek deel, en die volgende oggend is ek selfs vroeër as die res van die atlete by die skool.

Dit is heerlik om almal weer te sien. Ons lag en gesels. Ons skerts oor die uitdagings van die hoërskool. My ma is ook by die skool en gesels hier en daar met my maats se ouers. ‘n Perfekte dag.

Ek het eers ná skemer gedaan by die huis aangekom.

“Dit was so lekker om almal te sien,” het ek opgewonde vir my ma gesê.

“Almal het gepraat oor hoeveel gewig jy opgetel het,” was haar enigste reaksie.

Die spreekwoordelike emmer yswater is oor my uitgekeer.

Narsiste lieg. Blatant. Sonder om ‘n oog te knip. Sonder om wakker te lê. Om redes wat vir min mense sin maak. Om hul slagoffers te verkleineer of niks te gun nie. Om verhoudinge te vernietig. Om slagoffers te isoleer.

“Gaan bad, dit is amper etenstyd,” het sy agter my aangeroep.

Ek het my slaapklere na die badkamer toe geneem en die bad se krane oopgedraai. Die trane het vlak gelê. Ek het egter van beter geweet as om te wys hoe seer haar woorde my gemaak het. Hoekom toelaat dat sy haar nog daarin verlekker?

Ek het die krane toegedraai, die badkamerdeur oopgemaak en in die gangkas begin rondvroetel.

“Waarna soek jy?” het sy uit die kombuis geroep.

“Nie eintlik iets nie,” het ek haar vraag ontwyk.

Ek het ‘n halwe kers en blaker in die kas gekry. Daar was altyd ‘n pakkie vuurhoutjies op my pa se bedkassie.

Ek het die badkamerlig afgesit en in die donker die kers aangesteek terwyl trane vrylik oor my wange vloei.

In die dekades wat volg sou ek nooit weer ‘n badkamerlig gebruik tensy dit absoluut nodig was nie.

Die onsigbare dekmantel wat oor emosionele mishandeling hang maak dat slagoffers nie herken of gehelp word nie. Jy moet self probeer oorleef.

Ek skryf oor hierdie littekens wat ek in my hart ronddra om ‘n fisieke bewys te hê van ‘n lewe wat ek nie wou leef nie.

As dit iemand kan help om uit die wurggreep van narsisme weg te breek, soveel beter.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article