Stadsbestuurder Matlala pak infrastruktuur, begroting ná terugkeer

Thapelo Matlala
Thapelo Matlala in sy kantoor. FOTO: Charné Kemp

Sedert sy terugkeer na die kantoor ná ‘n afwesigheid van byna ses maande, het Thapelo Matlala, stadsbestuurder van die Sol Plaatje-munisipaliteit, verskeie “kritieke projekte en finansiële kwessies geprioritiseer om die stad se probleme op te los.”

Matlala het verlede week aan NoordkaapBulletin erken dat hy aanvanklik “bietjie geroes” gevoel het, maar dat sy onmiddellike fokus die finalisering van die munisipale begroting is.

Hy is September geskors weens bewerings van korrupsie, maar die regulasies van die tugproses is nie gevolg nie, en sy skorsing het in Desember verval.

Dipuo Peters, speaker, en Martha Bartlett, burgemeester, se regsaansoeke om hom weer te skors, het misluk. Kostebevele in hul persoonlike hoedanigheid is teen die twee vroue toegestaan.

LEES OOK: Kimberley se politieke toekoms: ANC en EFF smee pakt terwyl DA ‘oordeelsdag’ voorspel

Matlala sê die konsepbegroting behels sowat R4,2 miljard.

“Die begroting is ten volle befonds en voldoen aan alle regulasies. As ‘n nie-gedelegeerde munisipaliteit wat direk aan die Nasionale Tesourie rapporteer, is ons plan om die begroting teen die einde van April aan die Tesourie voor te lê. Sowat R700 miljoen van die begroting word vir kapitaalprojekte uitgehou.”

Een van Matlala se grootste fokusareas is water- en sanitasie-infrastruktuur.

“Die Begrotingstoelae vir Infrastruktuur (BFI) wat ons van die Tesourie gekry het, is om ‘n nuwe 31 kilometer-pyplyn met ‘n 1,2 meter deursnee aan te lê. Die projek is weer op koers. Dit is noodsaaklik om waterkwessies in Kimberley permanent op te los.”

Aansoek ingedien vir sanitasie-projekte

Nog goeie nuus is dat die munisipaliteit ‘n aansoek van R1,8 miljard by die Nasionale Tesourie ingedien het vir sanitasie-projekte. Dit het reeds die amptelike ondersteuning van die Departement van Water en Sanitasie.

“Om aanhoudende rioolprobleme op te los, word R10 miljoen tot R12 miljoen uit die munisipaliteit se eie koffers gebruik om die gestaakte Carters Glen-projek te voltooi. Ons het ook planne om sowat R10 miljoen aan sanitasieprobleme in Diamond Park en Tambo Square te bestee. Nog ‘n aansoek vir die Waterdienste-infrastuktuur-toelaag (WSIG) vir R120 miljoen is ingedien om die Homevale-rioolaanleg te herstel.”

LEES OOK: Veld agter hospitaal in Kimberley ‘besoedelde gemors’

Matlala het ook die ouditeur-generaal versoek om intydse ouditering (real-time auditing) op alle BFI-projekte te doen.

“Dit beteken dat elke sent wat bestee word, maandeliks gemonitor word.”

Matlala sê hy is vasbeslote om sy termyn te voltooi en die Sol Plaatje-munisipaliteit in een van die bes-bestuurde munisipaliteite in die land te verander.

Sy kontrak verval oor ‘n jaar en drie maande.

“Ek weet dit is nie meer baie tyd nie, maar ek wil minstens die herstelwerk aan die Homevale-aanleg voltooi.”

LEES OOK: Untreated sewage pours into flamingo paradise: Delay of urgent action questioned

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article