Jarelange werker aangekla van moord op perdeafrigter by renbaanperseel

Jannie Borman by een van sy renperde.
Jannie Borman vroeër jare by een van sy renperde. FOTO: Charné Kemp

Die man wat jare lank vir Jannie Borman (73) in Kimberley en Viljoensdrift gehelp het om sy renperde af te rig en wat nou van Borman se moord aangekla word, sal op 22 April aansoek om borgtog in die landdroshof in Sasolburg doen.

William Keepile (55) het ses jaar gelede saam met Borman van die Flamingo-renbaan in Kimberley na die Vrystaat verhuis waar Borman se perde aan wedrenne by die Vaal-perderenbaan deelgeneem het.

Jannie Borman en William Keepile in gelukkiger dae in Kimberley. FOTO: Charné Kemp

Die Flamingopark-sandrenbaan in Kimberley sou in 2019 sluit, maar dit is deur ‘n geldinspuiting van die Oppenheimer-familie gestuit. Die Covid-19-pandemie was egter die finale nekslag en die baan is in 2020 gesluit en later verkoop.

Die eerste perderenne in Kimberley is in 1873 aangebied, destyds ‘n driedaglange affêre waarin delwers en magnate van oor die land heen skouers geskuur het. Die Depressie het die wedrenne tot ‘n einde gebring, maar in die 1950’s is ‘n nuwe baan buite Kimberley gevestig waar wedrenne elke Maandag tot en met die pandemie plaasgevind het.

Destyds het Borman vertel dat hy ook voorheen aan wedrenne in Bloemfontein deelgeneem het, maar toe daardie baan sluit, het hy met sy renperde na Kimberley verhuis.

Hy, asook Keepile en Mario Mathe, was die laastes wat sy perde op die Flamingo-sandbaan kon oefen. Borman het destyds by die baan in ‘n huis gebly waar Keepile ook allerlei werk vir hom verrig het.

Verdagte verhuis saam met slagoffer

Hulle het destyds aan verslaggewers van hul hartseer oor die baan se sluiting vertel. Keepile het besluit om saam met Borman na die Vrystaat te trek.

William Keepile nadat hy ‘n paar jaar gelede een van Borman se perde geoefen het. FOTO: Charné Kemp

Skynbaar het hul verhouding verswak.

Luidens ʼn polisieverklaring het Keepile na bewering op 4 April sy werkgewer op die renbaanperseel waar albei gebly het, met ‘n graaf aangerand. Dit het op ‘n onderonsie gevolg.

“Die bewering is dat die oorledene en die verdagte, wat op dieselfde perseel gewoon het, omstreeks 20:04 alkohol gedrink het toe ’n woordewisseling oor perdewedren-geld uitgebreek het,” lui die polisieverklaring.

“Die argument het glo vererger, waarna die verdagte die slagoffer na bewering met ’n graaf aangeval het. Later het die verdagte die voorval by ’n sekuriteitsbeampte aangemeld, wat onmiddellik die nooddienste gekontak het.”

LEES OOK: Racing community mourns loss of multiple champion trainer

Lede van die polisie en noodmediese dienste het na die toneel gehaas, waar ’n manlike slagoffer binne-in sy huis aangetref is. Die 73-jarige slagoffer is deur EMS-personeel op die toneel dood verklaar.

Die Viljoensdrif-polisie het Keepile in hegtenis geneem en hy is van moord aangekla.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article