Die plaas Twyfelhoek se hek.
Die pad na Twyfelhoek. FOTO: Verskaf

Een van my groot voorregte as predikant was die voorreg van huisbesoek.  Na my mening is huisbesoek steeds een van die rykste dele van bediening en is dit altyd vir my swaar as daar gemeente-leiers is wat nie veel erg daaraan het nie. 

Daar is min voorregte so groot as om by mense besoek te doen en goeie tyd deur te bring. In ‘n tyd waarin baie so dikwels paniekerig gryp na allerhande vorme van bedieningsplanne, bly dit vir my verstommend dat mense die rykdom daarvan miskyk of mis-kies. 

Met daardie huisbesoeke het ek mense leer ken, aan bejaardes se lippe gehang, kinders se vrese en opregtheid aangehoor en die verskeidenheid van gawes in ‘n gemeente leer ken. 

Dit is juis by een so ‘n huisbesoek wat ek  agterkom maar dinge in hierdie spesifieke huis loop opdraand. 

Die huisvrou is moeilik van karakter, moeilik in haar woorde en moeilik in haar manier van dink. Haar man hanteer dinge maar soos dit kom. 

As die oudste van drie dogters voel die sesjarige dit is haar plig om hierdie geleentheid te gebruik om die dominee deel te maak van hierdie moeilike ma van hulle.  Sy trek in ‘n opregte, kind-egtheid daar weg en vra of ek asseblief sal help dat ons haar ma onmoeilik maak…

Ek val so ‘n bietjie vas by hierdie woord wat nie bestaan in Afrikaans nie, maar vir haar so logies is.  As haar ma moeilik is, moet die dominee haar onmoeilik maak. 

Ek kon haar nie rêrig help nie, al wou ek graag, maar jare na daardie huisbesoek dink ek nog gereeld as ek met moeilike mense werk hoe ‘n mens soms die begeerte het om moeilike mense onmoeilik te maak. 

Vir haar was dit vanselfsprekend:  Moeilik kan onmoeilik gemaak word. Ek het maar  die geleentheid gebruik om vir haar te leer ‘n mens moet eerder nie moeilik wees nie, sodat mense jou onmoeilik wil maak nie.  

Moenie moeilik wees nie. Dis onnodig.

  • Lees nog rubrieke hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article