“Some birds are not meant to be caged, that’s all. Their feathers are too bright, their songs too sweet and wild.” – Stephen King (often quoted from The Shawshank Redemption). “The caged bird sings sadly and dies quickly.” – Angela Panayotopulos, The Wake Up
Ontdek ons mos eendag ‘n blou budgie, of dit is ‘n parkiet, in ons voortuin. Hy vreet lustig saam met mossies, vinke en duiwe aan die saad wat die huismense uitgooi.
Self ‘n bietjie voorbarig en arrogant, stoot die kleiner voëltjies voor die kosbak weg. Gelukkig is hy nie ‘n politikus wat in ons voortuin vreet nie.
Nou so vertoef en bly hy hier, en vreet en smul. Gister toe ek weer kyk, herken ek hom amper nie.
Die vetrolle het aangepak. Hy is nie meer die maer enetjie van ‘n paar weke gelede nie. Sy boude bibber, sy keelvelle swaai, sy nek staan dik. Hy lyk gelukkig.
Vryheid is hom nou beskore. Geen mensgemaakte staalhok, stok of kosbak vol bollie of bak met ou water nie.
Nee. Vars lug in sy longe, die wind onder sy vlerke, ander voëlgeselskap en onderonsies.
Die son op sy gevreet, met die reuk van komende reën in sy neusgate. ‘n Nes in die koelteboom, waar hy so vroeg kan gaan slaap soos hy wil, en ook opstaan.
Vandag kan hy ons saad eet, môre kan hy aan boomsade pik. Dalk sy vere stryk, ‘n bad vat en na die voëlvroutjies staar.
Hier is geen meer mense wat hom irriteer met hul gekoetjie-koe nie.
Die dat ek anderdag toe iemand op Facebook amper ‘n oorval kry om ‘n los budgie in die park te vind en dit onsuksesvol wou vang “want sy baas” soek hom, ‘n opmerking moes maak.
Iemand anders het ook sy of haar vingers oor die toetsbord laat hardloop en vertel hy het gehoor die voëltjie neurie.
Nogal “I want to break free”.




