Emotional manipulation
Narsiste is berekende individue. FOTO: Amirr Zolfaghari / pexels.com

Hiermee die tweede aflewering van ‘n reeks wat ‘n Noord-Kapenaar oor die lewe saam met ‘n narsistiese ma geskryf het.

Ek is voorskools en gaan saam met ‘n paar maatjies na ‘n dagmoeder toe, maar in die middae is ek tuis.

Hierdie betrokke middag haal ek my inkleurwerk uit om verder in te kleur. My kleurpotlode lê die hele tafel vol.

My ma stap verby my en loer oor my skouer.

“Hoekom het jy twee groen potlode?” vra sy.

“Twee?” vra ek verward. “Nee… ek…” Sy leun oor my en tel die twee groen potlode op. Ek neem albei by haar en bestudeer dit.

“O,” sê ek. “Hierdie een is Esté s’n. Dit het seker deurmekaar geraak toe ons dit gebêre het. Ek sal dit môre vir haar teruggee.”

My ma gluur my met haar groen oë aan. Soms is ek oortuig daarvan dat ek blitse in daardie oë sien.

“Moenie dat ek uitvind jy steel nie!”

Ek sluk geskok. Ek probeer lomp verduidelik dat dit nie doelbewus was nie en dat ek seker sal maak sy kry haar potlood terug.

“Jy weet wat die Bybel sê: Hy kom soos ‘n dief in die nag.”

Ek knik my kop. Sy haal baie hierdie versie aan. Sy staar nikssiende in die verte.

“As Hy vanaand kom…” Sy sug. “Ek weet nie of Hy jou sal saamvat nie.”

Ek sluk aan die knop in my keel. Ek verstaan wat sy sê. Sy is reg. Ek is ‘n slegte mens. Iemand wat nie in die Hemel sal kom nie.

Daar gaan nie vir my plek wees nie, want ander, beter mense, gaan voor my daar aankom.

Daardie aand probeer ek wakker bly.

As Hy vanaand kom om ons Hemel toe te vat kan ek dalk net vinnig met Hom praat; vir hom verduidelik dat ek nie bedoel het om Esté se groen potlood te vat nie.

Ek besef Hy is teleurgesteld – my ma vertel my gereeld hoe teleurgesteld sy en God in my is.

Ek sal môre nog harder probeer om ‘n beter mens te wees.

Narsiste dryf ongekende vrees in hul slagoffers in.

Op enige moontlike manier. ‘n Narsis sal dreig om jou te verlaat. ‘n Narsis sal jou afpers – as jy nie doen wat hulle vra nie sal jy nie na Saterdag se partytjie toe gaan nie.

As kleuter is dit ‘n verlammende vrees wat sy klam, klewerige vingers om jou hart en siel toevou en jou ongesiends verwurg.

Vrees wat jou feitlik enigiets sal laat doen dat die narsis nie sy of haar dreigemente uitvoer nie.

Die onsigbare dekmantel wat oor emosionele mishandeling hang, veroorsaak dat slagoffers nie erken of gehelp word nie.

Jy moet self probeer oorleef.

  • Ek skryf oor hierdie littekens wat ek in my hart ronddra om ‘n fisieke bewys te hê van ‘n lewe wat ek nie wou leef nie. As dit iemand kan help om uit die wurggreep van narsisme weg te breek, soveel beter.

LEES OOK: ‘Trauma onmeetbaar’ saam met meester van manipulasie

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article