man covering his eyes while screaming
Sommige woorde laat ‘n mens oombliklik rooi sien. FOTO: RDNE Stock / pexels.com

“Probeer asseblief verstaan,” sê sy. “Daar is twee woorde wat my man rooi laat sien: belasting en verkeerskonstabel.” Sy lag. “Dalk kan jy iets oor hierdie twee woorde skryf.”

Ons almal het woorde wat ons rooi laat sien. Woorde wat die moed wat ons in ons hart dra, deur ons liggaam laat uitvloei en in die grond onder ons voete laat wegsyfer.

“Trek” is vir my so ‘n woord. Nie noodwendig ‘n laat-my-rooi-sien woord nie; meer ‘n moed-wegsyfer woord.

Om te verhuis is nie altyd ‘n slegte ding nie. Soms verteenwoordig dit ‘n nuwe begin. ‘n Nuwe hoofstuk. Nuwe kollegas. Nuwe vriende.

Dit verteenwoordig dalk ‘n beter toekoms. ‘n Beter lewe. Dit wat egter fisiek en emosioneel met ‘n trek gepaard gaan, is vir my baie moeilik.

In die eerste plek is dit baie meer werk as waarop ‘n mens voorbereid was. Dit maak nie saak hoeveel keer jy dit al gedoen het en hoeveel stelsels jy in plek het nie.

Met die laaste trek het ek nommers in verskillende kleure op die kartonbokse geverf.

Ek het ‘n eksamenblok byderhand gehou en ‘n lys gemaak van watter artikels in watter nommer kartonboks is.

Teen die tyd dat dit by ons bestemming aangekom het, het ons gevra die mense moet die kartonbokse met rooi nommers in die kombuis neersit; dié met die blou nommers in een vertrek; dié met nommers in geel in ‘n ander vertrek. Die geheim is om nie die eksamenblok te verloor nie.

Iewers kruis ‘n woord jou pad wat slegte herinneringe daarmee saamdra.

Soms verloor ons hierdie woord of die herinneringe wat daaraan gekoppel is langs die pad. Die woord verloor sy emosionele vuishou.

Ander kere bly so ‘n woord ons lewenslank by. Woorde soos: belasting, verkeerskonstabel, trek.

Watter onskuldige woord laat jou rooi sien?

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier en hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article