STELLENBOSCH – Twee gemaskerde en gewapende mans het na bewering Vrydag 30 Januarie helderoordag ‘n 19-jarige man naby ‘n winkelsentrum in Cloetesville, Stellenbosch, koelbloedig doodgeskiet.
Luidens ‘n polisieverslag het beamptes omstreeks 15:30 op die toneel in Langstraat reageer, waar hulle die liggaam van die 19-jarige Renaldo Anthony gevind het. Hy is deur nooddienste op die toneel dood verklaar.
“Hy (Anthony) het skietwonde aan sy bors opgedoen en koeëldoppies is deur die beamptes op die toneel versamel,” het AO Zenobia Sedeman, ‘n woordvoerder van die Cloetesville-polisie, gesê.
Anthony het altesaam ses skietwonde aan sy bolyf gehad. Volgens Sedeman is die polisie deur omstanders ingelig dat die gesigte van die twee onbekende verdagtes met balaklavas bedek is.
“In hierdie huidige stadium versamel lede van die Cloetesville-speurtak steeds inligting oor die voorval,” het Sedemen bygevoeg.
Die polisie ondersoek ‘n moordsaak, en die motief vir die aanval is nog onbekend. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.


