KAAPSTAD – Dr. Diana Ferrus, een van Suid-Afrika se mees gerespekteerde skrywers, digters en academici is in die ouderdom van 72 oorlede.
Dié nuus is bevestig in ‘n verklaring wat uitgereik is deur Ferrus se familie.
“Hierdie verlies word diep gevoel deur haar familie, vriende, kollegas en die talle gemeenskappe wie se lewens sy geraak het deur haar woorde, haar moed en haar onwrikbare verbintenis tot geregtigheid, waardigheid en menslikheid,” lui ‘n verklaring op Facebook uitgereik deur Laniëlle Hartzenberg, Ferrus se niggie en die familiewoordvoerder.
“Ferrus was meer as net ’n openbare figuur – sy was ’n geliefde familielid, mentor en rigtinggewende lig. Haar nalatenskap sal voortleef deur haar werk, haar stem en die ontelbare mense wat sy oor geslagte en landsgrense heen geïnspireer het.”
Die familie het vir privaatheid gedurende hierdie tyd van rou gevra en gesê dat verdere besonderhede rakende Ferrus se gedenkdiens mettertyd gedeel sal word.
Ferrus is in Worcester in die Wes-Kaap gebore en het ‘n kort siekbed beleef nadat sy op Kersdag verlede jaar ‘n beroerte gehad het.
Nalatenskap
Ferrus word landwyd en internasionaal onthou vir haar buitengewone bydrae tot die letterkunde en werk as aktivis binne die Suid-Afrikaanse landskap.
Haar deurslaggewende rol in die repatriasie van Sarah Baartman se oorskot uit Frankryk, word veral onthou.
Haar ikoniese gedig, I’ve come to take you home, het wêreldwyd weerklank gevind en was ’n belangrike kulturele katalisator in die proses wat uiteindelik in 2002 tot die repatriasie van Baartman se oorskot na Suid-Afrika gelei het.
LEES OOK: Ferrus by fees gehuldig
Ferrus was verbonde aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), waar sy as dosent en mentor studente en jong skrywers beïnvloed het.
Sy het in Afrikaans en Engels geskryf, en haar werk het dikwels gefokus op temas soos identiteit, geskiedenis, koloniale nalatenskap en vrouwees.
In erkenning van haar buitengewone bydrae is sy met verskeie eerbewyse bekroon, onder andere ‘n eredoktorsgraad vanaf die Universiteit Stellenbosch (US) in 2022.


