Dae nadat haar oogappel – haar geliefde seuntjie – verlede week in ‘n grubotsing op die Helshoogtepas oorlede is, is die Stellenbosser Gaynor Adams vandeesweek in die hospitaal oorlede.
Gaynor en haar seuntjie Berto-Lee (6) was verlede Donderdag (22 Oktober) die oggend soos gewoonlik van Kylemore af oor die pas na Idasvallei onderweg toe hulle teen ‘n ander voertuig gebots het.
Volgens die Cloetesville-polisie het beamptes om 07:15 op die toneel gekom waar die bestuurder van ‘n wit Toyota Etios (Gaynor) reeds mediese behandeling van ER24-paramedici ontvang het.
Berto-Lee is naby die motor gevind en is op die toneel dood verklaar.
LEES OOK: Fatal crash on Helshoogte Pass leaves boy dead, mother injured

Ander ongedeerd
Verkeersbeamptes van die Stellenbosch-munisipaliteit was teen middagete steeds op die toneel om verkeer te bestuur gesien twee van die vier rybane van die pas tydelik gesluit was.
Stuart Grobbelaar, ‘n woordvoerder vir die Stellenbosch-munisipaliteit, het bevestig munisipale nooddienste het op die motorbotsing by Helshoogtepas reageer.
“[Die bestuurder van] ‘n wit sedan, wat in die rigting van Stellenbosch gery het, het beheer verloor en [dié motor] het teen ‘n silwer Toyota gebots,” het hy verduidelik.
Die insittendes van die ander voertuig was ongedeerd.
Berto-Lee, ‘n gr.R-leerder van St. Idas Primêr, is as Gaynor se oogappel beskryf. Dié skool het hul medelye met die Adams-familie sowel as geliefdes van die seuntjie verlede week gedeel.
Dit was Dinsdag 27 Oktober dat die skool weer in ‘n kort inskrywing op hul sosiale media die nuus gedeel het dat Gaynor gesterf het.
Volgens die polisie was Gaynor erg in die botsing beseer en sy is na die Tygerberg-hospitaal geneem waar sy behandeling ontvang het. AO Zenobia Sedeman, ‘n plaaslike polisiewoordvoerder, het Gaynor se toestand as kritiek beskryf.
‘Woorde is ver te min’
Gaynor se vriendin, Zeena Oliver, het haar aankoms op die toneel as onwerklik beskryf.
“Toe ek daar aankom, hoor ek hulle sê hulle het jou gekry, Bertotjie. Ek is na Gaynor toe, waar sy lê, en roep haar naam: ‘Gaynor!’ My wind is uit my lyf. My hart is in stukkies. Ek kan nie glo wat gebeur het nie. Ek wens hierdie was net ‘n slegte droom. Rus sag, Bertotjie. Jy sal altyd in my hart bly,” het Oliver op haar sosiale media geskryf.
Sedertdien het sy die gemeenskap aangemoedig om aanhou te bid vir Gaynor.
Die Cloetesville-polisie het egter Dinsdag bevestig die jong ma is oorlede.
“Die hele personeel van St. Idas is diep geskok en ons harte is gebreek deur die verwoestende nuus wat ons vanoggend ontvang het. Woorde is ver te min om die hartseer te beskryf wat ons in hierdie moeilike tyd ervaar.
“Ons dra die Adams-familie en al hul geliefdes in ons gedagtes en gebede. Mag God hulle met Sy onfeilbare liefde omring, hulle krag gee vir die dae wat voorlê en vertroosting bring aan hul harte in hierdie tyd van ondenkbare verlies. Mag jou pragtige siel in ewige vrede rus, Gaynor Adams,” het St. Idas Primêr se personeel Dinsdag gedeel.
Begrafnisreëlings was teen druktyd nie bekend nie.
Eikestadnuus het uitgereik na ‘n familie-woordvoerder vir kommentaar, maar het geen terugvoer teen publikasie ontvang nie.






You must be logged in to post a comment.