Paarl Post

Niemand nog vas vir raaiselagtige moord op Paarlse man (33)

Crenston Solomons (33)
Crenston Solomons (33)

Die polisie het gister (10 Desember) by navraag gesê die ondersoek na die raaiselagtige moord op die Paarlse man, Crenston Solomons (33), duur voort en geen verdagtes is nog in hegtenis geneem nie.

Solomons se lyk is verlede Dinsdag (2 Desember) in die Du Toitskloofpas gevind – twee weke nadat hy deur sy familie as vermis aangemeld is.

Kapt. FC van Wyk, ‘n provinsiale polisiewoordvoerder, het vandeesweek by navraag gesê die polisie het ‘n moorddossier geopen en wag nog op die uitslae van die nadoodse ondersoek.

Paarl Post het betroubaar verneem dat Solomons in die kop geskiet is.

Die omstandighede rondom die moord word nog ondersoek. Dit is in hierdie stadium ook nog onduidelik hoe lank sy lyk in die Du Toitskloofpas gelê het.

Solomons (33) se familie het aan die koerant gesê hulle hoop die polisie se ondersoek sal antwoorde lewer oor wat tot sy ontydige en raaiselagtige dood gelei het.

“Ons het self baie vrae. Daar is so baie stories en weergawes wat die ronde doen. Vir nou is ons fokus om van hom afskeid te neem,” het Solomons se niggie, Shereline Arendse, gesê.

Volgens Arendse word veral Solomons se swanger meisie deur sy dood geraak.

Sy sal na verwagting is Januarie volgende jaar kraam.

Hy laat ook sy agtjarige dogtertjie, Tatum, agter, sê Arendse.

Arendse het Dinsdag gesê die familie wag nog op Solomons se doodsertifikaat.

Volgens Arendse hoop die familie om die doodsertifikaat nog in die week te ontvang.

‘n Roudiens is die afgelope Sondag (7 Desember) by sy familiewoning in Amstelhof gehou.

LEES OOK: Family of Heilay Darwish calls for action as case nears collapse

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article