Emotional manipulation
Narsiste is berekende individue. FOTO: Amirr Zolfaghari / pexels.com
Noordkaap Bulletin

NARSISME 10 | Beheer-truuk pleeg wrede moord op verwagting


Hiermee die volgende aflewering in ‘n reeks wat ‘n Noord-Kapenaar oor die lewe saam met ‘n narsistiese ma geskryf het. Lees vorige aflewerings hier.

Dit is Saterdagoggend 07:00. Niemand in die huis slaap later as dit nie. As jy teen 07:00 nog in die bed lê, word dit as ‘n mors van tyd beskou.

Ek is moeg ná ‘n uitdagende week in die hoërskool. Ek staan egter op en maak my bed op.

Onder die deur steek ‘n klein opgevoude papiertjie uit. Ek tel dit op en vou dit oop. In my ma se handskrif staan geskryf: “Moenie uitkom nie. Bly in jou kamer totdat ek jou roep.”

Verbaas gaan ek op die punt van die bed sit. Ek lees weer die boodskap. Dan kyk ek of daar agterop die papiertjie iets staan. Niks. Net die twee sinne. Ek wonder wat dit kan beteken.

Ek spits my ore aandagtig en luister of ek iets kan hoor. ‘n Geluid wat vreemder is as die gewone. Dalk het daar onverwags mense kom kuier. Ek ruik of ek iets anders kan ruik as altyd. Dalk is daar iets lekkers aan die bak in die oond – soos koek vir ‘n verrassingspartytjie. Niks.

Ek staan op en gaan staan styf teen my kamerdeur, wat steeds op knip is. ‘n Paar voetstappe verdwyn in die gang. Behalwe vir die briefie onder die deur, is daar niks vreemds aan hierdie oggend nie.

Ek gaan lê op my bed. Dit is half agt. ‘n Opgewondenheid begin nesskop in my binneste. Dit moet ‘n baie groot verrassing wees as daar so vroeg aan gewerfskaf word. Wat sal dit wees?

My brein dink in alle rigtings. Daar moet tog ‘n rede vir hierdie briefie wees. ‘n Goeie rede. ‘n Lekker rede.

Ek loer die soveelste keer na die wekker. Dit is amper agtuur.

Halfnege stoot my ma my kamerdeur oop en stap kombuis toe. Ek draf agterna.

“Waarom moes ek in my kamer bly?” vra ek.

Die opgewondenheid borrel deur my wese.

“Jou pa het swembadpype gaan koop. Hy wou hê jy moet saam met hom winkel toe ry. Ek wou nie hê jy moet saamry nie, toe sê ek vir hom jy slaap nog.”

Haar woorde tref my soos ‘n vuishou. Haar hele houding getuig daarvan dat hierdie optrede vir haar sin maak en geregverdig is.

Narsiste wil tot elke prys in beheer wees, en hulle manipuleer enige situasie om hul sin te kry. Hulle haat goeie verhoudinge.

Hulle maak dit duidelik dat jy geen seggenskap oor jou lewe het nie – tensy jou lewe slegs hulle insluit.

Die onsigbare dekmantel wat oor emosionele mishandeling hang, veroorsaak dat slagoffers nie herken of gehelp word nie. Jy moet self probeer oorleef.

Ek skryf oor hierdie littekens wat ek in my hart ronddra om ‘n fisieke bewys te hê van ‘n lewe wat ek nie wou leef nie. As dit iemand kan help om uit die wurggreep van narsisme weg te breek, soveel beter.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article