VELDDRIF – ‘n Noodlottige ongeluk op die pad tussen Vredenburg en Velddrif het op Maandagaand (21 September) die lewe van twee Weskusmans, albei pa’s met bloedjong kinders, geëis.
Volgens kapt. Tania Helfrich, polisiewoordvoerder, het die sit Ford-bakkie en swart Harley-Davidson-motorfiets mekaar naby Vlaminkvlei omstreeks 21:15 reg van voor getref.
Ayoob Karriem (24), ‘n inwoner van Velddrif, was in die bakkie onderweg en Stiaan Ellis (33) van Saldanha was op die motorfiets. Presies hoe die ongeluk plaasgevind het, word nog ondersoek.
Vir Karriem was motors terselfdertyd ‘n passie, sy werk en ook sy stokperdjie. Vriende onthou hom as ‘n man wat altyd bereid was om ’n hand by te sit.

Sy vriend, Dean Carstens, beskryf hom as iemand wat nooit moed opgegee het nie. “Hy was ‘n groot karakter in my resiesloopbaan. Hy was altyd hulpvaardig en ongelooflik slim. Hy het altyd gehelp waar hy kon, met enigiemand, veral by die stockcar-baan,” het Carstens gesê.
Hul gedeelde liefde vir motors het mettertyd in ‘n hegte vriendskap en sakevennootskap ontwikkel.
Volgens Mynhardt Pretious van Mynie Services, Ayoob se werkgewer, was hy ‘n behulpsame werknemer wat groot planne vir die toekoms gehad het. “Hy was een van die beste werkers wat ek gehad het. Hy wou altyd betrokke wees en almal het baie van hom gehou,” het Pretorius gesê.

Ester Karriem, Ayoob se stiefma, sê hy was ook baie geliefd in die Velddrif-gemeenskap en het altyd uit sy pad gegaan om ander te help. “Hy was ‘n mooi seun gewees. Altyd belang gestel, en vir sy familie gelewe.”
Sy sê Ayoob het self die bakkie waarin hy oorlede is, opgebou. “Sy droom was om die beste mechanic en auto-electrician te wees. Hy was baie goed daarmee.”

Vir Carstens was Ayoob veel meer as net ‘n vriend. “Hy was almal se mens. Jy kon nooit moeg raak vir hom nie. Hy kon nie eens ‘n vlieg doodmaak nie. Hy was baie slim en van alles geweet, en as hy nie geweet het nie, het hy seker gemaak om dit uit te sorteer en reg te kry.”
Carstens sê Karriem was soos familie en dat sy eie gesin alles vir hom beteken het. “Ayoob, ons gaan vir jou ’n courier-bakkie bou met ‘n groot turbo op. So oud soos jou bakkie was, mag niemand daarop gekrap of gekap het nie. Dit was jou alles, en die herinneringe saam met jou en die bakkie sal ek vir altyd saam met my dra. Ek is lief vir jou, Ayoob, my broer, vir altyd.”
Ayoob sal vandag nog begrawe word.
Ellis se familie was nog nie op ‘n plek om met Weslander oor sy dood te praat nie. Hy was ‘n geskeide pa.





You must be logged in to post a comment.