Tans vind meer aktiewe konflik tussen wêreldstate plaas as op enige ander stadium sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog in 1945. Hierby het die aantal lande wat by eksterne konflik betrokke is sedert 2008 byna verdubbel.
Dit volgens die Wêreldvrede-indeks vir 2026, wat deur die Institute for Economics and Peace uitgereik is en wat toon dat die wêreld op sy pad van afnemende vredesvlakke voortgaan. Hiervolgens het die gemiddelde vlak van vrede oor die wêreld heen ‘n 12de jaar agtereenvolgens verswak, met militêr-verwante uitgawes wat ‘n tiende jaar agtereenvolgens gestyg het.
Ysland bly ‘n 19de jaar agtereenvolgens die mees vreedsame land ter wêreld, gevolg deur Nieu-Seeland, Switserland, Slowenië en Ierland.
Rusland is die land met die minste vrede, wat saam met Soedan, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Oekraïne en Israel die onderste vyf plekke op dié lys van 163 onafhanklike state en gebiede inneem.
Buurland Botswana is in die 50ste plek en Namibië 63ste onder “hoë toestand van vrede”, terwyl Lesotho in die 86ste en Zimbabwe in die 90ste plek saam met Suid-Afrika – in die 123ste plek – onder “medium toestand van vrede” gelys is. Kanada beklee die 14de plek; buurman oor die see, Mauritius, die 18de plek; Suid-Korea die 57ste; China die 118ste; en die Verenigde State van Amerika die 134ste plek.
Volgens die instituut is die plasings gedoen na aanleiding van verskeie aanwysers, onder meer: sterftes weens interne konflik; buurstaatverhoudings; die in- en uitvoer van wapens; die intensiteit van interne konflik; en militêr-verwante uitgawes. Politieke onstabiliteit, gewelddadige optogte, persepsies van wat misdadigheid is, die vlak van manslag en moord en gevangeniskoers speel ook ‘n rol.
Vergeet van sak en as
Terwyl ‘n mens deur dié lange verslag van 125 bladsye lees, en oor die globale ekonomiese invloed van die oorlog in Iran, voel jy gereed om soos ‘n Job van ouds in sak en as te gaan sit.
Omdat die winterson toe al reeds op pad is om sy kop teen die westelike horison te stamp, vlug jy weg van die rekenaar en gaan stap maar eerder om die blok. En om nog een en nog een.
Met elke tree en met lewe polsend in die are besef jy weer dat jou wêreldjie deel van die wye wêreld is. Jy onthou die raad van ouds om jou net te bemoei met sake waarin jy wel ‘n verskil kan maak. Soos voorheen vind jy dat dié stappery oomblikke van stilte en vrede gee in dié wêreld wat al hoe meer lawaaierig word.
En jy stap om nóg ‘n blok vir jou eie vrede.
- Lees nog rubrieke en meningstukke hier.



