Hoofartikel: Wat jou laat stop.
Stop vir ‘n oomblik en oordink hierdie mening. FOTO: Helena Barnard

MENING | Wanneer gruwel normaal word, kwyn ons menslikheid


Ongevoeligmaking. Dit is volgens Pharos een van die Afrikaanse woorde vir “desensitisation” wat beteken om minder sensitief of voorkomend teenoor ‘n emosie of stimulus op te tree.

Dekades terug is kommer uitgespreek oor die invloed wat erge geweld in rolprente op die mensdom kan hê. Omvattende navorsing het getoon dat blootstelling aan uiterse geweld in rolprente en op televisie verband hou met ‘n verhoogde risiko vir aggressiewe gedrag, gedagtes en emosionele ongevoeligmaking op die kort- en lang termyn – hoewel wetenskaplikes steeds debatteer oor die presiese omvang daarvan.

In daardie era, voor selfone deel van ons uitrusting geraak het, kon ons kies om nié ‘n gewelddadige rolprent te kyk nie, of om die televisie af te skakel, of na ‘n ander kanaal oor te skakel.

Maar deesdae, met selfone wat bykans permanent op handpalms vasgeklem is, is geweld en ontstellende beeldmateriaal net ‘n oogknip of ‘n “scroll” weg. Nog meer ontstellend is dat dié geweld of grusame beeldmateriaal nié uit film-ateljees kom en net speel-speel is nie – dit is die werklikheid.

Die vorige week is die video van die polisie-vrou van Lichtenburg wat deur ‘n motor omgery is, waarna die motor bo-oor haar gery en haar vir enkele meters saamgesleep het, met oënskynlik min sensitiwiteit versprei. So ook die video van die voetganger op ‘n Gautengse sypaadjie wat deur ‘n vragmotor buite beheer – kan ‘n mens maar sê – vermorsel is.

LEES OOK: Polisievrou van Lichtenburg doodgery by voetoorgang voor winkelsentrum

Stroom jou lewe ongevraagd binne

Sulke ontstellende beeldmateriaal soek jy nie, maar dit soek jou. Dit stroom ons lewe ongevraagd binne deur verskeie platforms.

Ons kyk, ons klik, ons deel, ons blaai aan. Sonder om te blik of te bloos want weens ongevoeligmaking word die gruwelike die normaal. En ongesiens, met die kyk van elk van die ontstellende beelde, begin ons menslikheid wegsypel. Ons raak blind en gevoelloos vir ander se pyn.

Voordat kunsmatige intelligensie en sy slim robotte die mensdom dalk heeltemal oor-neem, is dit haastyd om digitale bewustheid te beoefen.

Is dit werklik nodig om soveel te “scroll” en soveel grusaamhede te deel?

Vermy dit om werklike tragedies as vermaak of “nuus” te herpak en respekteer die waardigheid van die slagoffers en hul families.

Indien jy dit nog kan regkry, skep ook bewustelik tegnologie-vrye sones in jou dag. En herstel jou brein se vermoë om werklike, menslike emosies te beleef.

LEES OOK: MENING | Skakel tog ‘Caps Lock’ af en moenie so in hoofletters praat nie

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article