Eunice Nortman
Eunice Nortman (53). FOTO: Facebook

Polisievrou van Lichtenburg doodgery by voetoorgang voor winkelsentrum


LICHTENBURG – Medelye stroom in ná die skokdood van ‘n geliefde adjudant-offisier van die Suid-Afrikaanse Polisiediens in Lichtenburg. Die 53-jarige Eunice Nortman wie aan die Noordwes-provinsiale Misdaadinligtingsdiens verbonde was, het Maandagmiddag aan haar beserings beswyk nadat ‘n voertuig bo-oor haar gery het terwyl sy ‘n voetoorgang oorgesteek het.

Volgens CCTV-beeldmateriaal het dié voorval Maandagmiddag 19 Oktober op die parkeerterrein van die Lichtenburg Mall langs Dr. Nelson Mandela-rylaan gebeur.

In ‘n verklaring sê die polisie dat die bestuurder van die BMW-nutsvoertuig in hegtenis geneem is. Die beskuldigde, Akilesh Gupta (23), het Woensdag 21 Oktober in die Lichtenburg-landdroshof verskyn. Hy bly in aanhouding tot sy volgende hofverskyning op Dinsdag 27 Oktober. ‘n Saak van moord, asook verdere aanklagte wat verband hou met oortreding van immigrasiewetgewing, word ook ondersoek. Bewerings bestaan dat die beskuldigde slegs ‘n leerlinglisensie gehad het en dat hy alleen in die voertuig was.

Eunice Nortman
Beeldmateriaal van ‘n CCTV-kamera oomblikke voordat die voertuig oor Eunice Nortman ry.

Die skokkende video van hoe Nortman raakgery is, word wyd en syd op verskeie platforms versprei. Ian Cameron, parlementslid en voorsitter van die Portefeuljekomitee oor Polisie, sê hy sal die video nie versprei nie want Nortman se familie en kollegas hoef nie daardie oomblikke telkens weer op sosiale media te herleef nie. Cameron sê hy is met afgryse gevul oor dié traumatiese video. Hy beskryf dit as hartverskeurend, en vind dit moeilik om te begryp hoe iemand se lewe op so ‘n manier kon eindig.

Cameron sê voorts om doelbewus oor ‘n ander mens te ry, is boos, en enige bewyse van doelbewuste optrede moet sonder versuim ondersoek word. Niemand behoort dit as “bloot ‘n ongeluk” af te maak voordat die bewyse behoorlik ondersoek is nie.

‘Merkwaardige vrou’

In vele kommentare op sosialemediaplatforms word Nortman as ‘n uitstekende polisie-offisier beskryf en word genoem dat haar dood leemtes in baie mense se lewe sal laat.

Bea-Marie Shanahan van Lichtenburg skryf: “Ek dink nie daar is nog iemand soos Tannie Eunice op hierdie planeet nie. Maar wat ek wél weet, is dat sy ’n merkwaardige vrou was. Sy het almal bo haarself gestel. Sy het wrede dinge gesien en beleef, maar tog was sy snaaks, vol lewe en goud werd!

“Jy het skaars iets genoem, of sy het dit reeds vir jou uitgesorteer. ’n Vrou wat nooit stilgesit het nie. Sy was altyd besig met nog ietsie, of sy het alweer ’n nuwe plan beraam.

“Sy was lief vir die mooi, klein dingetjies in die lewe. Trots op haar tuin en baie gesteld op ’n skoon vloer. Vir haar het dit nie oor tierlantyntjies gegaan nie. Sy was nie iemand vir grimering en mooi rokkies nie, en sy het niks van foto’s gehou nie. Maar as jy haar werklik geken het, het jy geweet dat sy mooier was as dit alles. Haar mooi het diep gelê. Sy was eerlik, opreg en eg.

“Niks het haar ongesiens verbygegaan nie. Sy was Eunice Nortman – ’n vrou, ’n ma, ’n dogter, ’n sussie, ’n vriendin, ’n kollega, ’n tannie, ’n kennis en ’n mens wat vir so baie mense goud werd was. Party mense se skoene is eenvoudig te groot om ooit weer gevul te word. Party mense laat ’n leemte wat woorde nie kan beskryf nie. En party mense se afwesigheid sal altyd gevoel word.”

Troosdiens vind Woensdag plaas

Nortman was getroud met Willem Nortman, wie ‘n adjudant-offisier in die polisie se speurtak is. Hulle het twee seuns, Wian (26) en Wessel (24). Sy word deur haar man en seuns oorleef, asook haar tweelingsuster, Elsabé van Rensburg, ma Ina Wessels, broer Johan Wessels, en suster Elrika van der Merwe.

Sy word veras, en haar troosdiens vind Woensdag 28 Oktober 11:00 vanuit die Hervormde Kerk in Lichtenburg plaas. Die diens word deur ds. Gerhard Viviers waargeneem. Verrigtinge sal ook deur middel van ’n regstreekse aanlynuitsending beskikbaar wees.

Eunice Nortman



You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article