Die meerderheid van dit wat aan ons voorgesit word, het so ‘n effense nasmaak van politiek; asof dit baie lank in die verkiesingsbeloftes-marinade gelê het.
Maar hoe dan anders? Met die belangrike plaaslike verkiesing wat in November oor die land heen plaasvind en waarvoor 508 politieke partye hulle registreer het, is dit nie verbasend dat verkiesings beloftes volop en teen ‘n winskopie beskikbaar is nie.
Wanneer ‘n mens jou kruisie op die stembrief trek, oefen jy jou demokratiese vryheid uit. Maar hoe vry is vryheid?
Volgens Freedom House se jaarlikse Vryheid in die Wêreld-verslag het vryheid teen 2025 oor die wêreld heen ‘n 20ste jaar agtereenvolgens afgeneem. Altesaam 54 lande het in 2025 agteruitgang in politieke regte en burgerlike vryhede ervaar, terwyl slegs 35 lande verbeterings aangeteken het.
Individuele vryhede word boonop deur staats- of niestaatsbetrokkenes waarvoor jy nie stem nie, beïnvloed.
Volgens die nuutste verslag is Finland die wêreld se vryste land met ‘n perfekte telling van 100.
Amerika het sy laagste vryheidstelling ooit behaal, met 81 punte.
Europa oorheers die top-ranglys, terwyl die minste vry lande in Afrika en Asië is.
Staatsgrepe, gewapende konflikte, aanvalle op demokratiese instellings deur verkose leiers en verskerpte onderdrukking deur outoritêre regimes is die hoofdryfvere van agteruitgang gedurende hierdie tydperk van 20 jaar.
Die verslag dui aan dat demokrasieë verder wegbeweeg van hul tradisionele rol as verdedigers van vryheid, en dat die wêreld deur ‘n gevaarlike toekoms begroet word in die skadu van aangemoedigde outokrate.
Dié soort alleenheerser het weens verskeie redes ‘n hupstoot in selfvertroue, moed of vermetelheid gekry en is oortuig hulle kan wegkom met optrede wat hulle voorheen sou huiwer om uit te voer.
In die meeste Afrika-lande bedreig militêre staatsgrepe, nie-mededingende verkiesings en gewapende konflik die beginsels van vryheid. Volgens die verslag word Suid-Afrika (met 81 punte) as vry beskou, so ook sy buurlande Namibië (73 punte) en Botswana (75 punte).
Met ‘n allesomvattende blik op vryheid: Hoe vry is ‘n mens as jy in jou eie huis gevange gehou word weens riooloorstromings by jou voordeur? Hoe vry is ‘n mens as jy tevergeefs ‘n kraan oopdraai in die hoop op water; as jy jouself bedags en snags in jou huis moet toegrendel; of as jy nie eens veilig in ‘n eksotiese bestemming soos die Kruger-wildtuin is nie?
- Lees nog rubrieke en meningstukke hier.




